Van Soweto tot Polokwane vir veteraan hardloper Johan

Johan van Graan het al aangepak wat min mense kans voor sou sien.

POLOKWANE – As dit kom by hardloop staan hy nie terug vir enige uitdagings nie en hy is glad nie skaam om die voortou te neem met iets nuuts nie. Johan is die eerste van drie hardlopers in die stad wat die 100 myl gedoen het, asook die oudste deelnemer aan die Savannah Mall se drie-in-een wedren.

Hy het talle Comrades medaljes en is ‘n bekende gesig by enige wedren in en om die stad. Die volgende hoogtepunt wat hy wil bereik, is om 250 Park Run wedrenne te voltooi en hy staan reeds by die 200 merk. Johan is Polokwane se eerste Park Run toeris. Dit beteken hy woon wedrenne regoor die land en selfs buite die land by. Johan noem hy het op ‘n jong ouderdom begin hardloop en beveel dit aan vir enige iemand.

Lees meer: Johan van Graan se ryk geskiedenis

“Ek spot altyd ek hardloop al 70 jaar lank. Waar ek groot geword het was die huis tussen twee strate en as my ma hulle my nie by die een hek kon vang nie, was ek al klaar by die ander een op pad uit,” spot Johan. Iets wat hom baie na aan die hart lê is die feit dat hy in Soweto groot geword het. Hy kon meer as eenkeer aan die Soweto wedloop deelneem en dis vir hom baie spesiaal. Hy was ook een van die eerste mense in die stad wat aan die Comrades gaan deelneem het. Johan het in 1981 vir die eerste keer aan dié maraton deelgeneem.

Lees meer: ‘Grand master’ voltooi maraton in merkwaardige tyd

“Hardloop doen die siel en die gees goed. Ek hoop dat almal wat kan, die sport sal beoefen, al begin hulle stadig. Met elke tree is daar net meer liefde vir die sport en voor jy weer sien het dit jou hart gesteel,” vertel Johan.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version