BREAKING NEWS – Wiers-moordverhoor – seun getuig oor hoe hy soek, ma se lyk vind

Die verhoor van Frans Maela, wat daarvan verdink word dat hy Tanya Wiers in Februarie 2017 in haar huis in Eduanpark verkrag en vermoor het, sal Maandag in die Limpopo Hooggeregshof hervat word. Die verhoor het Woensdag begin met Maela wat onskuldig op aanklagte van verkragting, moord en roof met verswarende omstandighede gepleit het. Wiers …

Die verhoor van Frans Maela, wat daarvan verdink word dat hy Tanya Wiers in Februarie 2017 in haar huis in Eduanpark verkrag en vermoor het, sal Maandag in die Limpopo Hooggeregshof hervat word.
Die verhoor het Woensdag begin met Maela wat onskuldig op aanklagte van verkragting, moord en roof met verswarende omstandighede gepleit het.
Wiers se eggenoot, Rolf, het eerste getuig hoe hy tydens die voorval uitstedig was. Tydens sy getuienis is hy gevra om sy vrou se ringe, tabletrekenaar en selfoon uit te ken wat tydens die ondersoek in die buurman se buitebadkamer gevind is.
Ander getuies wat Woensdag geroep is sluit die buurman se huishulp, Agnes Masha, wat getuig het hoe sy iemand gehoor skreeu het in. Sy het glo vir Maela geroep, maar hy was nêrens te vinde nie totdat hy oomblikke later na haar geroep het om die hek vir hom oop te maak. Op haar vraag waar hy was waarop hy gereageer het dat hy winkel toe was om lugtyd te gaan koop.
Die Wiers-gesin se buurman, Guido de Marre, ‘n volgende getuie, het gesê sy seun het hom geskakel om te sê die polisie is by die huis om ‘n moordsaak te ondersoek. Hy het verder uitgebrei oor die sak met die tabletrekenaar en juwele wat in die buitebadkamer gevind is.
Die eerste polisieman op die toneel, André Kotze, het getuig hoe hy op die toneel aangekom het en deur die egpaar se seun, Rolf jr, na die kamer geneem is waar hy die oorledene se bebloede lyk op die vloer gevind het.
Tanya se liggaam was onder ‘n duvet toegegooi. Hy het die huis verlaat en dadelik die toneel afgesper. Nadat hy voetspore in die erf opgemerk het, het hy Nico Joubert van die honde-eenheid na die toneel ontbied.
Joubert en voetspoorkenner, Lesiba Manamela van dié eenheid het saam op die toneel opgedaag. Joubert het Woensdag oor sy rol op die toneel getuig waarna die saak na gister (Donderdag) uitgestel is vir Manamela om te getuig.
Rolf jr het ook gister getuig. Hy het gesê alles was normaal die oggend toe hy skool toe gestap en sy susters saam met sy ma in die motor geklim het. Hy was in Hoër Tegniese Skool Tom Naudé en sy susters in Hoërskool Pietersburg.
Hy het getuig dat hy ongeveer 14:00 terug by die huis was. “Ek het geroep: ‘Ma, ma, ma,’ maar sy het nie geantwoord nie. Ek is na my kamer toe om my skoene uit te trek en toe na die televisiekamer, maar sy was nie daar nie. Ek het na haar kamer gegaan, maar sy was ook nie daar nie en het gesien my jonger suster se kamerdeur is toe. Toe ek dit oopmaak het ek my ma daar sien lê,” het hy die hof meegedeel.
Hy sê hy het die deur toegetrek en sy pa geskakel.
‘n Forensiese fotograaf, Gillion Kgare, het gister oor sy bevindinge getuig en die meer as 70 foto’s van die toneel aan die hof beskryf.
Die saak is gister uitgestel nadat ‘n personeellid van die forensiese patologiese eenheid van die departement van gesondheid getuig het. Regter Gerrit Muller het die getuie versoek om registerboeke, waar die in- en uitteken van bewysstukke waaronder bloed- en DNA-monsters opgeteken word, Maandag aan die hof voor te lê.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version