Vriende, familie onthou Nadia

Met haar vriendelike glimlag het Nadia Bradbury (33) vinnig in mense se harte ingekruip.

POLOKWANE – Sy was ‘n bondel energie wat nie nee gesê het vir die lewe se uitdagings nie. Nadia is verlede Donderdag in die hospitaal oorlede. Haar broer, Stefan Botha, vertel dat sy sedert Desember telkens in die hospitaal opgeneem en weer ontslaan is.

“Ek sal haar onthou as hierdie sprankelende persoonlikheid met energie wat net nooit ophou nie. Sy het ons geleer hoe om jou lewe elke dag ten volle te geniet.”

‘n Vriendin, Nerina Barnard onthou haar as ‘n liefdevolle persoon wat nie omgegee het wat mense van haar dink nie: “Ek was vir haar baie lief. Sy was ‘n dierbare mens en ‘n uitstekende ma”.

Nadia and her two children Caitlin en Byron

Nog ‘n vriendin, Antoinette Meyer, vertel dat sy die voorreg gehad het om haar te ken.

“Elke tree wat Nadia geloop het, het ‘n verhaal geskets. Sy het altyd gelag al het die lewe haar swaar afgetrek.”

Kerry Joubert wat ‘n liefde vir perde met Nadia gedeel het, onthou haar as iemand wat haar vriende laat lag het. “Sy was ‘n wonderlike vriendin wat altyd geluister het en baie beskermend was.”

Nadia was vir ‘n tyd deel van Review se redaksiespan, waar haar energie ook hiér tasbaar was. Groepredakteur, Joline Nash, beskryf haar as iemand wat voluit gelewe het en wat vir die mense naaste aan haar, ‘n ekstra spesiale plek gehad het.

“As joernalis, onthou ek haar geesdrif vir haar werk. Sy het elke taak as uitdaging aangepak, en was nie bang om nuwe mense te leer ken of haar werk met oorgawe te doen nie.”

Nadia word oorleef deur haar twee kinders, Caitlin en Byron, haar pa, Paul en haar broer Stefan en sy familie, asook vriende. Haar roudiens vind plaas op Vrydag, 17 Mei om 11:00 vanuit die AGS Taberna Dei Moederkampus.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version