Tanya Wiers-moordverhoor begin

Meer as 27 maande nadat Tanya Wiers (44) bloeddorstig by haar huis in Eduanpark vermoor is, het die verhoor van die beskuldigde, Frans Maela (28), gister (Woensdag) in die Limpopo Hooggeregshof begin. Familielede, onder wie Wiers se man, Rolf en die egpaar se seun, Rolf jr en dogter, Bianca, was sedert Maandag hoopvol dat die …

Meer as 27 maande nadat Tanya Wiers (44) bloeddorstig by haar huis in Eduanpark vermoor is, het die verhoor van die beskuldigde, Frans Maela (28), gister (Woensdag) in die Limpopo Hooggeregshof begin.
Familielede, onder wie Wiers se man, Rolf en die egpaar se seun, Rolf jr en dogter, Bianca, was sedert Maandag hoopvol dat die proses in aanvang sou neem. Die verhoor is uitgestel omdat Maela nog nie ‘n regsverteenwoordiger gehad het nie.
Maela het voor die aanvang van die verhoor onskuldig op aanklagte van moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede gepleit.
Rolf is teen druktyd as eerste getuie geroep.

Frans Maela, die moordverdagte in die Tanya Wiers-saak, se verhoor het gister (Woensdag) in die Limpopo Hooggeregshof begin.

Rolf het voor die aanvang van die verhoor gesê dat die saak onnodig sloer. “Ons het geleer om dit te verwerk, maar ons smag daarna dat die saak afgehandel word. Met tye is dit steeds moeilik, maar ons beweeg aan. Ek hunker soms nog na haar geselskap,” het Roelf gesê.
Maela, die tuinier van die destydse buurman van die Wiers-gesin, is op dieselfde dag as die moord aangekeer en word daarvan verdink dat hy Tanya in Februarie 2017 by haar huis in Eduanpark met ‘n skêr en mes aangeval en wreedaardig vermoor het. Gesteelde goedere soos ‘n tabletrekenaar, selfoon en juwele is glo in sy besit gevind. Die egpaar se seun het na skool op sy ma se lyk afgekom
Die Wiers-gesin se tuinier is ook enkele dae daarna in hegtenis geneem nadat Maela hom in ‘n bekentenis aan die polisie by die moord geïmpliseer het. Hy is ongeveer nege maande later vrygelaat nadat hy nie met die moord verbind kon word nie. Maela het in aanhouding gebly en staar aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede in die gesig.
“Ek en my kinders wil weet wat daardie dag by my huis gebeur het. Waarom was die beskuldigde in my huis en wat was sy motief om die wreedste misdaad denkbaar te pleeg. Ons soek geregtigheid en afsluiting,” het Rolf destyds gesê.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version