Local NewsNews

Stoma: Nie die einde van die wereld nie

Wanneer daar 'n groot verandering in jou gesondheid en daaglikse bestaan gebeur, dink jy dikwels dit is die einde van die wêreld. Alhoewel dit die einde van jóú wêreld is soos wat jy hom ken, is dit nie die einde van jou lewe nie.

POLOKWANE – Hennie van Heerden vertel hy het in 1986 ‘n kolostomie gekry nadat hy met kolon en maagkanker gediagnoseer is. Hy het ‘n stoma gekry met ‘n kolonoskopie-sakkie.

“In 1987 verwyder hulle die kolostomie en aangesien die kanker versprei het, het dokters my dikderm verwyder en ook 450mm van my dunderm. Hierna het ek ‘n ileostomie gekry. Ek het in ‘n tydperk van twee jaar, 21 operasies gehad.”

Hennie wat gelukkig getroud is met Adri en twee seuns het, vertel dié stoma het hom glad nie terug gehou van die lewe af nie.

“Ek glo dit is ‘n besluitnemingsproses in jou kop. Wil jy in ‘n hoekie gaan sit en krepeer of wil jy aangaan met jou lewe? Vir my het my lewe nie rerig verander nie. Ek het steeds saam met my seuns skaatsplank gery en boom geklim.”

In daardie tyd het Hennie en sy gesin in Pretoria gebly en hy was van plan om betrokke te raak by die ondersteuningsgroep.

“Daar was mense wat, as gevolg van die stoma, hulself uit die samelewing onttrek en selfs selfmoord gepleeg het. Party mense kan dit hanteer en ander nie. Baie mense het nie die nodige ondersteuning nie, veral nie van dokters en verpleeg personeel nie. Baie susters gee selfs die verkeerde raad aangesien hulle net boeke kennis het.”

Hennie vertel ‘n stoma verander van grootte en wanneer jy ontslaan word is hy groot. Jy kry dan ‘n sakkie wat deurskynend is. Die pasiënt word nie ingelig dat die produkte verander kan word nie.”

Hennie is ‘n lid van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) Polokwane, sedert hy in Polokwane aangekom het en het al baie mense touwys gemaak en raad gegee.

“Ek het self die paadjie geloop en verstaan die proses. Ek weet wat om te doen en hoe om te reageer. Dit is egter nie vir elke mens nie.”

Hennie en Adri is besig om hul huis te omskep in ‘n huis waar pasiënte wat chemotrapie ontvang kan bly tydens hul behandeling. Hennie doen ook individuele berading om ander mense te help en by te staan.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button