Saamgestelde gesinne: ‘n ma vertel

My kinders, jou kinders, nou een gesin. Dis nie altyd só maklik om gesinne te kry om as eenheid te funksioneer nie, en nog moeiliker as dit nie jou biologiese kinders is nie.

POLOKWANE – ‘n Ma het haar storie met Review gedeel oor die probleme wat sy aanvanklik gehad het met ‘n saamgestelde gesin nadat sy, ‘n geskeide vrou, vir die tweede keer getroud is – met ‘n wewenaar wat sy eie kinders gehad het. Review het beide man en vrou se name verander ten einde die gesin se privaatheid te beskerm.

“Mens moet baie mooi besin voor mens vir ‘n tweede keer trou, veral as jy en hy altwee kinders het,” vertel Sonja. Sy is ‘n mooi, goedversorgde vrou in haar dertigerjare. “Nou gaan alles goed, maar die eerste paar jaar na ek en Dries getroud is, was moeilike jare en ons het harde bene gekou. ‘n Mens moet vooraf maar ‘n sak sout opeet en mekaar baie goed leer ken, asook weet dat die kinders jou aanvaar.”

Sy was skaars vyf jaar getroud toe haar gewese man gesê het dat hulle huwelik ‘n fout was, en dat hy eintlik lief is vir ‘n vriend, saam met wie hy dikwels op visvang- en jagnaweke gegaan het.

“Dit was baie onverwags, ek het dít glad nie verwag nie, alhoewel ek al daarmee vrede gemaak het dat hy nie ‘n baie romantiese man is nie. Ons het reeds ‘n driejarige dogtertjie gehad, en ek het gedink ek sou graag nog kinders wou hê, maar hy het aanmekaar verskonings gehad. Drie jaar na my egskeiding het ek vir Dries ontmoet. My dogter was toe reeds sewe jaar oud, en hy het twee seuns van 10 en 12 jaar oud gehad. Ek het gedink dat dit maklik sal wees om vir hulle ‘n ma te wees, aangesien ek altyd graag nog kinders wou hê. En ek het gedink omdat hulle ma al drie jaar terug oorlede is, sou hulle graag weer ‘n ma wou hê. Hulle was egter lekker bederf deur ‘n ouma wat na skool na hulle gekyk het, en toe ek begin om hulle te dissiplineer en huishoudelike take aan hulle op te dra, was hulle dikwels dikmond en ongehoorsaam. My dogtertjie was gewoond daaraan om haar eie bed op te maak en oor naweke te help skottelgoed was en haar klere op te tel en in die wasgoedmandjie te gooi, maar die seuns nie.”

Dit het nie baie gehelp dat die oudste op die drempel van die stormagtige tienerjare was nie, en die jonger broer het sy broer se voorbeeld gevolg deur te weier om opdragte uit te voer. Dries, wat dikwels lang ure gewerk het, was soms ongeduldig as ek gekla het oor die seuns se gedrag, wat mettertyd erger geword het. Hy wou nie raas nie, want hy het hulle min gesien en wou die beskikbare tyd saam met die kinders geniet.

“Ek was moedeloos en moeggepraat en -kla en het nie meer geweet wat om te doen nie. Ek het hulle op verskillende maniere probeer benader, maar niks het indruk gemaak nie. Ek het getwyfel of ek ‘n goeie ma is, want hoekom kry ek hulle nie om saam te werk nie? In my hart het ek Dries begin verwyt omdat hy my nie ondersteun nie.”

Sonja het tydens ‘n rustige tydjie ernstig met Dries gepraat, en hulle het toe as gesin gegaan vir berading. “Dit was die beste ding wat ons kon doen, ek sal dit vir enige iemand aanbeveel. Ons het geleer om gereeld gesinsvergaderings te hou en te praat as iets pla, sommer simpel stories of grappies te deel of te besluit oor vakansies en aktiwiteite op vakansiedae. Die seuns het besef dat hulle ook hul deel moet bydra in die huis en ons maak meer tyd om saam pret te hê as gesin. Dries maak ‘n punt om nie sulke lang ure te werk nie. Hulle aanvaar my as hulle ma, betoon respek vir my en my oudste seun het my net nou die dag vertel van ‘n meisie van wie hy sommer baie hou en gevra wat hy moet doen daaromtrent.”

Die gesin sal oor ‘n paar maande spog met ‘n nuwe sussie, ‘n welkome byvoeging tot die gesin, waarna almal uitsien.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version