Local NewsNews

Joernalis, meer as net ‘n werk

In Engels is daar 'n gesegde wat lui "Be like a duck. Stay calm on the surface but paddle like hell underneath." Baie dae is dit presies hoe dit gaan in die nuuskantoor, sê Review joernalis, Maretha Swanepoel

Op die oppervlak is ek rustig en kalm, maar binne is daar ‘n warboel van gedagtes, idees en planne.

In 2003 het ek een oggend 04:00 vir my ma laat weet dat ek ‘n joernalis wil wees, ek wou Afganistan toe gaan en fotos daar neem. Tot die dag in 2011, wat my sussie vir my sê ek moet aansoek doen vir die pos as joernalis by Review.

My eerste gedagte was “ek weet nie hoe om ‘n joernalis te wees nie”.
Ek het bitter vinnig geleer en gevind dat dit presies is wat ek wil doen en eintlik nog altyd wou doen.
Ek het kennis gemaak met hardenuus, gemeenskapsnuus, sportnuus en skolenuus en besef dat ek ‘n hart vir gemeenskapnuus het.

Nadat ek daarop begin fokus het om myself toe te spits om nuus vir die gemeenskap oor die gemeenskap te kry en oor te vertel, het ek baie mense ontmoet en nuwe vriende gemaak. Deur die afgelope paar jaar is daar ook ‘n paar stories wat vir my uitstaan, wat ek heel moontlik altyd sal onthou.

Een daarvan is Bernadine en Gert du Preez se troue in 2014. Bernadine is kort voordat hulle sou trou met kanker gediagnoseer en hulle het al hulle geld wat hulle vir die troue gespaar het, vir haar behandeling gebruik. Review het besluit om vir hulle ‘n troue te reel en tydens hierdie proses het ek gesien hoe die gemeenskap hulle harte oop maak. Daar het ook ‘n vriendskap tussen my en Bernadine ontstaan en dit het my hart gebreek toe sy in Desember 2016 haar stryd teen kanker verloor het.

Nog ‘n storie was oor Kosie Wessels wat, toe hy slegs sewe jaar oud was, sy linkerhand en voorarm in ‘n fratsongeluk met ‘n bomklapper verloor het. Nadat die gemeenskap Kosie se storie gelees het, het hulle weereens hulle harte en sakke oopgemaak en is daar genoeg geld ingesamel en kon hy ‘n prostese-arm en hand ontvang.

Kort nadat Kosie sy nuwe arm ontvang het, is Mia le Grange op 26 weke gebore en weereens kon ek help om ‘n verskil te maak deur haar storie te vertel. Lesers het saamgestaan en genoeg geld is weereens ingesamel sodat Mia goeie mediese hulp kon ontvang. Sy vier een van die dae haar tweede verjaarsdag.
Een van die minder lekker stories is die Wiers-moord in Februarie 2017. Tanya, ‘n ma van drie kinders, is wreed in haar eie huis vermoor en haar seun het op haar afgekom. Met dié wat ek gereeld die hofsake bywoon, en met haar familie gesels, het ek vriende geraak met haar man, Rolf, en kinders, Bianca, Rolf en Karla. Die saak is nog nie afgehandel nie en kom weer voor in Mei in die Hooggeregshof in Polokwane.

Deur die jare het ek baie gehuil saam met die mense vir wie ek skryf. Ek onthou die dag toe ons hoor van twee honde wat, as gevolg van hongerte, hul honde-boetie begin vreet het. Ek onthou ook die dag toe ek op een dag van drie kinders in die gemeenskap moes skryf wat skielik oor ‘n naweek dood is. Die dag toe ek met ‘n ouerpaar moes gesels wie se seun selfdood gepleeg het en die dag toe Jakkie Louw Een miljoen woorde sing oor die telefoon vir Henda Nel wat in die hospitaal was vir behandeling teen kanker.

Met die wat ek skole nuus ook dek, sien ek hoe die kinders in die gemeenskap presteer en groei. Ek is saam met ouers opgewonde oor ‘n eerste atletiekbyeenkoms of ‘n rekord wat gespat het. Ek is trots as die kinders sukses behaal en ek is trots om met die skole geassosieer te word.

Een van die sinne wat ek seker die meeste hoor is “jy is ook orals”. Soms voel dit vir my of ek orals is en almal ken. Ons werk is nie ‘n glansryke werk nie, dit verg lang ure, in die aande en naweke. Ons moet altyd vriendelik wees. Soms is ons moeg. Gefrustreerd, kwaad en omgekrap. Dan gooi ek myself in my werk in en binnekort voel ek weer beter.

Dit is lekker om met mense te gesels en hulle stories te hoor. Dit is ook lekker om dit aan ander oor te vertel. Dit is lekker om fotos van geleenthede te neem. Alhoewel ek soms lang ure werk, kuier ek so tussen deur en ontspan ek tog.

Ja, soms voel ek soos daai eend, maar as spertyd verby is en die koerant gesak het, skep ek vinnig asem en begin weer van voor af.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button