Local NewsNewsUpdate

[VIDEO] Drie-voetige vriend vind ‘n huis

Die dag wat ons die drie-voetige Africanis ontmoet het, het hy 'n hartseer en tog hoopvol kyk in sy oë gehad. Stil en rustig het hy gelê en wag vir sy nuwe familie.

POLOKWANE – Dié outjie, wie se naam deesdae Jakes is, het nie nodig gehad om te lank te wag om ‘n huis te vind nie.

Kort nadat fotos van hom op sosiale media verskyn het, het Magda Fernandes hom deel van haar huisgesin gemaak.

Lees meer: Drie-voetige vriend, kan al die liefde verskaf

“In die vroeë oggendure, toe ek nie kon slaap nie, het ek op Facebook fotos van hom gesien het. Ek het onmiddelik geweet ek wil hom myne noem. Ek het vroeër vir my vriend, Eddie Bronkhorst, gesê ek wil nie nog diere hê nie, maar ek was onmiddelik verlief op Jakes.”

Sy vertel sy het eers hul ander honde, Rusty en Chloe na die Polokwane Diere Beskermingsvereniging geneem om met Jakes kennis te kon maak.

“Rusty is ‘n regte ou moedertjie wat die vrede bewaar tussen Chloe en Jakes. Jakes het onmiddelik met hulle altwee vriende gemaak en later, nadat hy ‘n dag of wat by die huis was, het ons kat Jan-Harrem besluit om Jakes te kom ontmoet. Die twee het bietjie geruik en die volgende oomblik was hulle spelerig.”

Jakes is gebore met ‘n onontwikkelde voorpoot. Dié poot hang net aan hom en hy kan hom glad nie gebruik nie.

“Ons wil nou geld bymekaar maak om die poot te amputeer. Volgens die veearts kyk ons na min of meer R3 000. Eddie beoog om ook vir hom ‘n harnas en ‘n rolstoel te maak. Die poot is nie seer nie, maar mens kan sien dis ongemaklik.”

Terwyl ons gesels lê Jakes in die geselskap en elke kort-kort waai sy stert soos ‘n tevrede hond s’n.

Eddie lag en vertel as hy ‘n teef was, sou sy naam Megan gewees het. “Hy het hier in royalty ingestap,” lag hy. Eddie wou aanvanlik vir Jakes die naam Tripod gee, maar Magda het geweier. Eddie het toe besluit om hom Jakes, na aanleiding van Rolf Harris se liedjie, Jake The Peg, wat handel oor ‘n man met drie bene, te noem.

“Hy is ‘n vreeslike liefdevolle hond wat lief is daarvoor om drukkies te gee. Hy het bitter vinnig huismaniere aangeleer en volg my soos ‘n stertjie. Hy is nie lief vir ry nie en hou niks van hoogtes nie. Hy kan glad nie trappe klim nie en ek moet hom dra. Ons is baie lief vir hom,” vertel Magda.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button