Shéri: Perfek, maar wel ‘n bietjie anders

Shéri tree op as motiveringspreker en het Saterdagaand tydens 'n Kaas-en-Wyn funksie ten bate van Minke Geldenhuys, die gehoor aan haar voete gehad met haar verhaal van hoop.

POLOKWANE – Een van die miskonsepsies van die verlede was dat mense met Downsindroom nie lank lewe nie, só vertel die 37-jarige Downsindroomlyer, Shéri Brynard. “Deesdae word hulle tot 60 en selfs 70 jaar oud.”

Shéri tree op as motiveringspreker en het Saterdagaand tydens ‘n Kaas-en-Wyn funksie ten bate van Minke Geldenhuys, die gehoor aan haar voete gehad met haar verhaal van hoop.

“Dit is nie belangrik om lank te lewe nie, maar wat belangrik is, is hoe jy lewe. Ek is perfek in die oë van die Here. Perfek, maar wel ‘n bietjie anders.”

Sy vertel dat daar dinge is wat sy nie alleen kan doen nie, soos bestuur, maar dat dit haar nie terug hou in die lewe nie.

“Ek het nie altyd gelukkig gevoel met wie ek is nie. My ma het my hartseer gesien en vir my koffie gebring. Hier het ons my behoefte om soos ander mense te wees, bespreek. Daardie dag het sy my ‘n baie belangrike ding gewys. Sy het aan my gewys hoe mense op die strate bedel en uit asblikke eet en toe gevra of ek met hulle plekke wil ruil. Sy het my vertel dat ‘n mens se geluk bepaal word deur die keuses wat mens maak. Ek het daardie dag die besluit gemaak om dankbaar en trots te wees op die mens wat ek is.”

Shéri vertel ook hoe haar ouers haar aangemoedig en gehelp het om dit wat sy kan doen, verder te ontwikkel. Sy het besluit om die beste te maak van wie sy is.

“Vergewe mense en moenie op die negatiewe fokus nie. Jy kan nie die verlede verander nie, maar jy kan besluit hoe dit jou gaan beïnvloed. Almal het die reg om gerespekteer te word, maar dan het ons almal die plig om ander te respekteer. Ons moet dinge aanvaar wat ons nie kan verander nie.”

Sy verduidelik dat ‘n mens jouself nie moet vergelyk met ander mense nie, en dat jy nie moet toelaat dat jou omstandighede jou drome beperk nie.

“Ek dank vanaand my Hemelse Vader, dat Hy my gemaak het, presies nes ek is, ‘n persoon met Downsindroom.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version