Local NewsNews

Sheri besoek stad vir goeie doel

"Ek is die enigste persoon met Trisomie 21, in Suid-Afrika, met ‘n tersiêre onderwys diploma, sonder dat enige toegewings vir my gestremdheid gemaak is" - Shéri Brynard

POLOKWANE – Shéri Brynard sal as die gasspreker optree by die Kaas-en-Wyn funksie wat gehou word om geld in te samel vir Minke Geldenhuys. Minke is ‘n 19 maande oue dogtertjie wat met Downsindroom gebore is. Daarmee saam, het sy ‘n ernstige hartdefek en moet binnekort gaan vir ‘n ope hart operasie. Dié funksie vind plaas op Saterdag 16 Maart om 18:00. Shéri is 36 jaar oud en woon in Bloemfontein.
“Ek is die enigste persoon met Trisomie 21, in Suid-Afrika, met ‘n tersiêre onderwys diploma, sonder dat enige toegewings vir my gestremdheid gemaak is. Daar was geen spesiale aanpassings in die kurrikulum of evaluerings gemaak nie. Geen tutor het my in die klasse bygestaan nie. My klasse en studiemateriaal was ook in Engels, wat ek op daardie stadium nie goed verstaan het nie.” Shéri is ook ‘n internasionale ambassadeur vir persone met Downsindroom. Sy glo alle mense het die vermoë om die beste van hulle omstandighede te maak en sy is ‘n lewende voorbeeld van hierdie keuse. Sy werk as onderwysassistent by die Lettie Fouché skool vir leergestremde leerders.
“Behalwe vir die meer as 650 publieke toesprake wat ek al in Suid-Afrika en in die buiteland gelewer het, het die groot eer my te beurt geval. Ek het die geleentheid gehad om die Verenigde Nasies toe te spreek, eers in New York en daarna in Genève, Switserland. Hierdie optrede was ‘n oop gesprek, waar ek die regte van persone met intellektuele gestremdhede bepleit het.” Shéri het al vir Oprah Winfrey ontmoet, hand geskud met die president en by internasionale konferensies as spreekbuis vir die Internasionale Downsindroom-vereniging opgetree. Shéri was ook te sien in Binnelanders. In haar toesprake vertel sy openhartig van die hartseer en die vreugdes van haar merkwaardige lewe. Haar ma, Susette, deel ook háár kant van die storie as ouer. “Hierdie jong vrou is ‘n absolute inspirasie en bron van hoop, vir oud en jonk, ouers en onderwysers, dié wat inspirasie soek asook gemarginaliseerde mense,” vertel Susette.
“Shéri is die verhaal van ‘n buitengewone vrou wat danksy harde werk, wilskrag, deursettingsvermoë, en ’n diepe afhanklikheid van God, haar lewe voluit leef.”
Sheri het al ‘n aantal toekennings ontvang, soos die volgende:
• Die Presidential Award (hoogste toekenning) aan persone wat ‘n bydrae gemaak het om die lewens van intellektueel gestremde mense te verbeter in Suid-Afrika.
• Die World Down Syndrome Day Award. Dit is toegeken deur Down Sindroom Internasionaal, om erkenning te gee aan die bydraes wat Shéri maak om die lewens en persepsies van persone met downsindroom internasionaal te verbeter.
• Shéri is verkies tot die eerste Shoprite Checkers vrou van die jaar in die kategorie Jeugwerkers, met ‘n gestremdheid. Meer as ‘n 1 400 vroue was genomineer.
• Sy ontvang ook die Optentiatoekenning van die Noordwes-Universiteit, uit erkenning vir die werk wat sy doen om persepsies oor die vermoëns van verstandelik gestremde persone te verander.
• Shéri wen ook die Nasionale Tribute award, hierdie toekenning is vir gestremde mense wat ‘n verskil maak in die lewens van ander gestremde mense in Suid-Afrika.
Sy vertel sy is einde verlede jaar genomineer deur Independent Media as ‘n finalis vir The Young Independent 100 in Suidelike Afrika. Hulle is opsoek na jong leiers in Afrika.
• Laastens verwerf sy ook The Most Outstanding Youth Best Achiever Award” op nasionale, sowel as internasionale vlak in die Vrystaat.
Shéri se boek: Shéri, Net soos ek is, is ‘n boek wat sy oor haar eie lewe geskryf het. Sy is die eerste persoon met Downsindroom wat haar eie ervaring in boekvorm kon uitgee. Die boek was een van twee, in die finale rondte, vir die The Andrew Murray-Desmond Tutu prys. Die boek sal na die afloop van haar praaitjie in Engels en Afrikaans te koop wees.

Lees meer van Minke in hierdie week se Review.
maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button