Local NewsNews

Drie geliefde leerders en ma sterf in motorongeluk

Aandoenlike tonele het hulle Vrydag­oggend by Pietersburg Laerskool (PLS) afgespeel toe leerkragte en kinders ingelig is oor die afsterwe van drie geliefde leerders en hulle ma wat verlede Donderdagaand omstreeks 20:00 in ‘n grusame motorongeluk op die N1 buite Pretoria betrokke was. Martie de Klerk en haar seuns Johan (10), Barend (8) en Altus (5) …

Aandoenlike tonele het hulle Vrydag­oggend by Pietersburg Laerskool (PLS) afgespeel toe leerkragte en kinders ingelig is oor die afsterwe van drie geliefde leerders en hulle ma wat verlede Donderdagaand omstreeks 20:00 in ‘n grusame motorongeluk op die N1 buite Pretoria betrokke was.
Martie de Klerk en haar seuns Johan (10), Barend (8) en Altus (5) is op slag dood toe ‘n vragmotor vanuit die teenoorgestelde rigting in hul motor ingeploeg het. ‘n Band van die vragmotor het na bewering gebars en die bestuurder is na die voorval met beserings in die hospitaal opgeneem. Martie se swaer, Tobie Kritzinger van Mookgophong het ook in die ongeluk gesterf.
Die De Klerks was na Pretoria onderweg om ‘n doktersafspraak na te kom en Kritzinger sou sake in Springs afhandel.
Charlotte van den Berg, skakelbeampte van PLS, sê dat leerders van die skool erg getraumatiseer is na die voorval, veral dié in die klas vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes, waarin Johan was. “Die De Klerk kinders was baie gewild onder hulle maats en het altyd uit hul pad gegaan om ander by te staan. Hulle was kinders uit die hemel en dit is miskien beter dat hulle almal saam weg is want hulle was baie geheg aan mekaar,” sê Van den Berg.

Aandoenlike tonele het Vrydag by Pietersburg Laerskool afgespeel toe leerders van die dood van die De Klerk kinders verneem het.

Jacques Bartlett, operasionele hoof van PLS het bevestig dat ‘n bus met onder­wysers Dinsdag ‘n roudiens in Pretoria sou bywoon.
“Ons het ook beradingsessies vir leerkragte en leerders gereël wat deur AGS Taberna Dei aangebied sal word,” het Bartlett Maandag gesê. Volgens hom was die voorval ‘n massiewe skok vir almal wat die De Klerks geken het. “Leerders het in trane uitgebars toe hulle na die kinders se leë banke in die klasse gekyk het,” vertel Bartlett.
Bartlett het sy innige meegevoel met die oorledenes se naasbestaandes betuig.
Altus se graad R-onderwyser, Shané Maytham, sê in ‘n boodskap: “My sonstraal seuntjie. Juffrou was lief vir jou soos een van my eie. Jy het elke oggend my ingewag by my kar met jou glimlag ‘Juffrou kan ek help’. Jy het altyd almal probeer help en was so vriendelik. Die hele klas was jou maat. Die Zebraklas was so lief vir jou gewees. Jy het altyd jou broodjies met almal gedeel. Ek sal jou nooit vergeet nie. Rus sag my sonstraal Altusie.”

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

 

Related Articles

Back to top button