Tommies tooi die stad stelselmatig in pienk

Flaminke is nie 'n voëlsoort wat 'n mens in Polokwane sien nie, maar meer en meer lesers sien dié flambojante pienk voëls in die stad.

POLOKWANE – Hul eiers is in ‘n nes reg voor Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se ontvangs en die groep van 10 flaminke toer die stad deur.

Elke flamink het sy eie naam en persoonlikheid en wat hulle só spesiaal en besonders maak, is dat hulle ‘n gawe het om suksesvolle besighede wat moontlike geld kan skenk kan raaksien.

Die flaminke het op 28 Februarie begin om elke weeksdag ‘n besigheid te besoek om donasies te kry. Dié donasies is vir die jaarlikse kaskar-byeenkoms op 1 Maart.

Sou jy dié swerm flaminke voor, of selfs in jou besigheid gewaar word, volg die volgende stappe:

1. Moet nie ‘n poging aanwend om hulle te verwyder nie. Flaminke is baie sensitief.
2. Kontak Henry Marx. Hy is die onderhandelaar en die flaminke sal sy besonderhede hê.
3. Bied ‘n donasie aan. Enige donasie, geld, dienste of goedere kan aangebied word, solank daar ‘n kontantwaarde aangeheg kan word.
4. Neem soveel as moontlik foto’s saam met die flaminke en stuur dit aan Tom Naudé, sodat dit op sosiale media bladsy geplaas kan word.
4. Die flaminke sal vlieg sodra die donasie, of die belofte of bewys van donasie gemaak is.
5. Net voor hulle vlieg, kan jy en jou besigheid ‘n ander besigheid uitdaag, waarheen die Flaminke dan moet vlieg.
6. Vertel soveel as moontlik mense van die flaminke.

Die flaminke kan ook aangeneem word teen ‘n baie spesiale aannemingsfooi. Aangeneemde flaminke sal na afloop van die kaskarweek, saam met hulle aannemingssertifikate na besighede geneem word.

 

Die klas, veranwoordelik vir die flaminke sal ook op 1 Maart bekendgemaak word.

Die Kaskarresies skop in Grand Prix-styl af om 14:30 en daar is ‘n doelwit gestel om R300 000 in te samel.

Skoolhoof, Piet Holtzhausen vertel dat daar verlede jaar ‘n reuse poging aangewend was en R209 505.76 ingesamel is.

“Daar is R80 692.95 se produkte, pryse en materiaal afgelewer.”

Verlede jaar het gr.11A gespog met die mooiste kar, gr.10A met die mooiste banier en gr.11A en gr.11B het gesamentlik eerste plek gedeel vir die mooiste kuipe. Die beste gees is gesamentlik gewen deur gr.11A en gr.11E.

“Die moordende resies is verlede jaar deur die seniorklasse gr.11A en gr.12A gewen met ‘n afstand van 47,4 km. 79 rondtes is gestoot en die gr. 8A-klas was die junior-wenners.”

Die geldinsamel-wenklas was gr.10A met R31 916.90 en die graadgroep wat gewen het, was die gr.10’s met R61 073.40.

“Kom kyk gerus op 1 Maart watter rekord gaan spat. Baie dankie aan elke besigheid wat tot dusver die Flaminke gehuisves het. ‘n Skool kan nie sonder weldoeners soos u, uitnemende onderwys nastreef nie.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version