Beauty en Beastie

Die verhaal van Skoonlief en die Ondier is bekend onder oud en jonk. Dit gaan oor die mooi jong meisie wat die gruwelike ondier se hart gewen het. Hierdie storie het homself hierdie week in Polokwane afgespeel, toe skoonlief, Elmari Oosthuizen, en Beastie mekaar ontmoet het.

POLOKWANE – Beastie se oorsprong is onbekend. Die Polokwane Dierebeskermings Vereniging het hom in die straat opgetel waar hy alleen rondgedwaal het. Hy was ‘n klein bondeltjie met amper geen hare op sy lyfie nie.

Met sy sagte bruin oë het hy gou almal se harte gewen, en die personeel by die DBV het besluit om hom Jason te noem. Hulle het geweet dat ongeag van sy geskiedenis, wil hy leef en verdien hy ‘n tweede kans.

Na ‘n bad, kos, warm slaapplek en baie liefde, ondergaan Jason amper oornag ‘n gedaanteverwisseling. Die lewe kom terug in sy oë en skielik het hy hare. Hy is ‘n pragtige ligbruin kleur met wit pote en ‘n stert wat nie ophou waai nie.

Op Saterdag, slegs ‘n paer dae nadat dinge vir Jason begin gaan het, besoek Elmari die DBV en die oomblik toe sy vir Jason sien, is dit liefde met die eerste oogopslag.

“Ek het twee honde gehad, maar een is onlangs oorlede. Rex, die een wat oorgebly het, was alleen en toe my pa afgetree het, het Rex hom orals gevolg. Ek wou graag ‘n hond van my eie hê en het besluit om na een by die DBV te gaan soek,” vertel Elmari.

Die oomblik wat Jason se hok oopgesluit is, het hy op Elmari afgestorm en sonder woorde in haar hart ingeklim.

“Die aannemingsproses het ‘n paar uur geduur en daardie aand kon hy by my slaap. Ek het besluit om sy naam te verander na Beastie toe, maar hy is die liefdevolste hond denkbaar. Hy is so vier of vyf maande oud en hy word einde Februarie gesteriliseer.”

Beastie het soos ‘n wafferse koning in sy nuwe paleis ingestap, so asof dit al jare aan hom behoort. Hy en sy nuwe boetie, Rex, speel vir ure lank en wanneer dit slaaptyd raak, is hy in Elmari se kamer, onder die lessenaar in sy eie bed.

“Ek is baie lief vir hom en is so bly dat ek vir hom ‘n nuwe lewe kan gee,” vertel Elmari.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version