Local NewsNews

Remax dra by

Vir die afgelope agt of nege maande hang die heerlike reuk van boereworsrolle, pannekoek en boepensbroodjies in die lug, waar ouers in die middag hul kinders oplaai na skool by Laerskool Pietersburg se hek in Dorpstraat.

POLOKWANE – Die geure is te danke aan die koswaentjie wat besit en beman word deur Peet Venter.

Einde Oktober is Peet se wêreld omgekeer, toe dié waentjie reg voor sy huis gesteel is. Die waentjie is later in Westenburg opgespoor en verdagtes is in hegtenis geneem.

Lees ook: Oom Peet-hulle is terug

Peet vertel dat die waentjie beskadig was en halfpad swart geverf was, maar dat hy nie nog ‘n dag se werk kon verloor nie en hom net skoongemaak het en toe aangegaan het met die besigheid.

“Ongeveer ‘n maand gelede het Northland Remax die waentjie vir my oorgedoen en ek is nou weer baie trots op die oorgedoende waentjie. Ek neem ook nou ekstra veiligheidsmaatreëls om seker te maak dat die kriminele nie weer sal toeslaan nie.”

Peet se vrou, Annetjie, help hom soms in die waentjie en hy vertel dat dit hul enigste inkomste is. Hulle voorsien ook grootmaat bestellings as kliënte belangstel.

“Ek kan nie genoeg dankie sê vir Remax nie. Dit is heerlik om weer in ‘n skoon, netjiese en mooi waentjie te werk en mense koop weer meer by my.”

Jean Pretorius van Northland Remax vertel dat Peet sy buurman is en dat hy destyd toe hy gehoor dat hulle die waentjie teruggekry het, met twee van sy kollegas gepraat het en dat hulle besluit het om te help.

“Ons het ook die hulp van Marina Labuschagne van Carma Signs ingekry om die kunswerk op die waentjie te doen. Dit is maar ‘n manier om terug te gee aan die gemeenskap.”

Indien mense bestellings wil plaas kan hulle vir Peet kontak by 079 080 6262.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button