Local NewsNews

‘Princess Leia’ se aanneemdroom word waar

Princess Leia is wel 'n kat, maar nie sommer enige kat nie.

POLOKWANE – Haar oorsprong is effens onduidelik, en selfs haar presiese ouderdom is onbekend, maar haar eerste liefdevolle huis was die plaaslike Dierebeskermingsvereniging.

Hiér het sy in die Molly Hawken Dierekliniek se kantoor gekuier en geduldig, soos katte maar is, gewag tot sy haar nuwe mense kon ontmoet.

Dit was ook nie lank nie, toe Ettienne van Wyk met sy kat, Skye, daar instap.

Princess Leia was onmiddellik verlief op Ettienne en het sommer dadelik, die oomblik toe hy vir Skye oorgee in dr. Nadia Krige se bekwame hande, met hom begin vry.

Dit was ‘n gekopvryf van ‘n ander aard en Ettienne het omtrent gesukkel om die nodige vorms in te vul.

Haar hart was gebreek toe Ettienne moes huis toe gaan, maar tog was sy hoopvol, want sy het gehoor hoe Chantelle Watson, ontvangsdame by die kliniek, met Ettienne gesels oor aanneming.

Nie lank daarna nie, word Princess Leia se droom waar en besoek Ettienne weer die kliniek om sy hond, Sam, te laat steriliseer.

Weer gesels Ettienne en Chantel oor aanneming en ongeveer drie weke later kom haal hy vir Princess Leia.

“Mense neem nie dikwels ouer katte aan nie, hulle soek maar altyd die babakatjies. Princess Leia, of Pampoen soos ek haar noem, het dadelik in my hart ingekruip en ek was opgewonde om haar na ons huis te neem,” vertel Ettienne.

“Hier het sy onmiddellik vir Kevin, my seun, aangeneem en nou volg sy hom oral waar hy gaan. Hulle is beste vriende.”

Hy vertel dat Princess Leia dadelik aangepas het by hul ander troeteldiere, naamlik die kat, hond, draak en spinnekop.

“Hier is ook volstruise en ganse asook hoenders, en sy bring vir ons voëltjies as geskenke. Dink natuurlik ons is slegte jagters. Die twee katte het eers vir mekaar geblaas, maar het darem nou gewoond geraak aan mekaar.”

Princess Leia was die gesin se eerste aanneemtroeteldier, maar Ettienne sê as die geleentheid hom voordoen, sal hulle beslis weer aanneem.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button