Local NewsNews

Sekuriteitswag sien glo hoe twee lyk stort

Die polisie was gister (Woensdag) teen dagbreek steeds op ‘n toneel om moontlike leidrade op te volg wat kan lei tot die arrestasie van twee persone wat glo in die vroeë oggendure die lyk van ‘n onbekende man in ‘n veld in Websterstraat-verlenging gestort het. Die polisie vermoed die man is elders vermoor. ‘n Sekuriteitswag …

Die polisie was gister (Woensdag) teen dagbreek steeds op ‘n toneel om moontlike leidrade op te volg wat kan lei tot die arrestasie van twee persone wat glo in die vroeë oggendure die lyk van ‘n onbekende man in ‘n veld in Websterstraat-verlenging gestort het. Die polisie vermoed die man is elders vermoor.
‘n Sekuriteitswag van ‘n nabygeleë perseel in die Websterstraat-verlenging, naby Peter Mokaba Stadion, het alarm gemaak nadat hy glo die insident gesien afspeel het. Die media is nie naby die toneel toegelaat nie.
Polokwane stasiebevelvoerder, Gift Makhubele, wat ook op die toneel was, het gesê daar is nog baie min inligting beskikbaar, maar dat elke moontlike leidraad noukeurig opgevolg word. Hy kon ook nie sê hoe die man vermoor is nie en wou nie oor sy ouderdom bespiegel nie.
“Volgens ‘n sekurtiteitswag het hy glo ‘n blou Volkswagen Polo in die straat sien stilhou en twee mense het uitgeklim. Hy het glo gesien hoe hulle die lyk van ‘n man uit die motor haal en die veld indra. Daar is aangedui dat die twee verdagtes ‘n man en ‘n vrou is,” volgens Makhubele. Hy kon nie die tyd van die voorval bevestig nie.
Die wag het dadelik die polisie geskakel. Makhubele sê die vermoede bestaan dat die slagoffer moontlik elders vermoor is. Nog geen identifikasie was teen druktyd bekend nie. Die ondersoek duur voort.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button