Local NewsNews

Stad span saam om Siebie op te spoor

Siebie, 'n wit Duitse Herdershond van vyf jaar oud, het sosiale mediagebruikers en veral lede van die blad, Lostandfoundlittlefriends Polokwane, behoorlik aan die soek gehad gedurende die vakansie.

POLOKWANE – Siebie se familie, Riaan en Carmia Schrader en hulle kinders was weg vir Kersnaweek en vertel dat Siebie op 26 Desember, tydens ‘n hewige donderstorm, uit die erf gekom het.

Carmia vertel Siebie is geneig om deur die pallisadehek te beur wanneer die weer swaar is.

Siebie se verdwyning is byna dadelik op sosiale media gedeel.

“Nadat ons by die huis gekom het en agtergekom het sy is weg, het ons dadelik begin soek. Daar was gereeld mense wat laat weet hulle het haar gesien.”

Sy vertel dat die Dierebeskermingsvereniging (DBV) haar laat weet het Siebie is gevind, en toe hulle by dié Siebie kom, was dié vreeslik verskrik.

“Sy het op ‘n druppel soos die regte Siebie gelyk, maar iets in haar oë was tog anders. Ons het gedink dit is omdat sy so lank in die strate was, maar na ‘n paar uur het die DBV gebel en gesê daar is mense wat haar kom opeis het. Ons harte was stukkend, maar dieselfde dag nog het Alma Janse van Rensburg haar opgespoor en na die DBV geneem waar hulle haar laat skandeer het. Die mikroskyfie het bevestig dat dit Siebie was.”

Na 11 dae in die strate was Siebie vuil en moeg en haar pote seer. Tog was daar tekens dat sy wel deur iemand versorg was.

Siebie na sy gevind is. Foto: Facebook

“Ek is so dankbaar vir almal wat help soek het na Siebie. Ek het nie geweet die gemeenskap kan so saamstaan nie,” vertel Carmia.

Volgens Adele Heinlein, stigter van Lostandfoundlittlefriends Polokwane, was die klappers hierdie jaar stiller as in die verlede gedurende die feesseisoen.

“Die weer was wel swaarder en dit het die hondekinders verskrik. Ons het drie of vier groepe gehad wat patrollie gery het op Oujaarsdag en Nuwejaarsdag. Ons het deur die vakansie ongelooflik baie diere opgetel en hul huise gesoek.”

Die Bestuurder by die DBV, Selma Landman, vertel dat hulle tot voor Nuwejaarsdag baie stil was maar dat daar tussen 15 en 20 honde en katte daarna by hulle beland het.

“Daar is slegs ses diere, vyf honde en ‘n kat, opgeëis en ons het die mense nog tot Maandag, 7 Januarie gegee om die diere te kom opeis. Nou is hulle beskikbaar vir aanneming. Daar was ‘n misverstand waar die mense gedink het ons as die DBV kan boetes uitreik aan mense wat klappers skiet, maar slegs die polisie is gemagtig om boetes uit te reik.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button