Maak die lekkerste braaibroodjie!

Bykosse is 'n baie belangrike element van die braai, en braaibroodjies is maklik om te maak

POLOKWANE – Suid-Afrikaners is eenvoudig mal oor vuurmaak, en braai is, naas rugby en sokker, ons ‘nasionale sport’, gewild onder almal in die land.

Bykosse is ‘n baie belangrike element van die braai, en braaibroodjies is maklik om te maak – maar dis ook maklik om droog te maak met braaibroodjies, of dit baie ‘gewoon’ te maak.

Dag-oud brood, gewone witbrood of suurdeegbrood (sour dough) of ciabatta maak eksieperfeksie broodjies.

Solank die brood nie krummelrig of te dik gesny of te oud is nie, behoort dit goed te werk.

Tamatie, kaas en uie is die hoofbestanddele, en veral mozzarellakaas is ‘n wenner, maar gewone cheddarkaas is net so lekker..

Geur met sout en varsgemaalde swartpeper en smeer die brood met botter aan die buitekant, en ook binne as jy dit sou verkies. Die botter buite gee die brood ‘n krakerige tekstuur en sorg vir ‘n mooi goue kleur. Pasop vir te warm kole, gebrande brood is nie lekker nie! Braai dit liefs nadat die vleis gebraai is oor matige kole. Houtkole is ook baie lekkerder as houtskool (charcoal).

Braaibroodjies moet dadelik geëet word en nie koud word nie.

Avokado en soet groen rissie is lekker op braaibroodjies en botter kan met knoffelvlokkies gemeng word na smaak. Mayonnaise gemeng met soetrissiesous of blatjang aan die binnnekant van die broodjie is ook heerlik. Sommige mense hou van peppadews of gekarameliseerde uieringe of rooi uie-marmelade, maar my lekkerste broodjie is eenvoudig kaas, uie, tamatie, blatjang en basiliekruidblare.

Wat ook al jou keuse: Lekker braai!

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version