Georganiseerde landbou hof toe

Georganiseerde landbou gaan nie die wysiging van artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak sonder teëstand aanvaar nie en beoog om die saak in die hoogste hof te beveg. Agri SA Agri SA het Woensdag in ‘n media­vrystelling gesê dat dié organisasie sal voortgaan om alle moontlike weë te ondersoek …

Georganiseerde landbou gaan nie die wysiging van artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding
moontlik te maak sonder teëstand aanvaar nie en beoog om die saak in die hoogste hof te beveg.
Agri SA
Agri SA het Woensdag in ‘n media­vrystelling gesê dat dié organisasie sal voortgaan om alle moontlike weë te ondersoek om die belange van boere en die boerderygemeenskap te beskerm.
“Die beskerming van eiendomsreg is absoluut krities vir beleggings, voedselsekerheid en volhoubare landelike hervorming,” sê Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur. “Dit is nie wenslik of nodig om artikel 25 van die Grondwet te verander nie. Agri SA hou vol dat daar negatiewe gevolge sal wees indien daar ‘n wysiging is. Dit sluit in die negatiewe impak op grondwaardes, wat produksiefinansiering aan kommersiële en opkomende boere drasties in gedrang bring.”
Luidens die verklaring bly Agri SA verbind tot sy verklaarde standpunt teen wysigings aan die Grondwet om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak. “Ons is op ‘n kritieke tydstip in ons geskiedenis ten opsigte van die grondvraagstuk en ons moet dringend aandag aan die aspirasies en vrese van alle Suid-Afrika­ners oor hierdie sensitiewe saak gee,” sê Dan Kriek, president van Agri SA.
Limpopo Landbou (voorheen Agri Limpopo)
“Dit is jammer dat politici nie wil onderskei tussen party-politieke belang en landsbelang nie,” sê Leon Borcherds, president van Limpopo Landbou. “Ons as burgery kan nie toelaat dat hulle hiermee wegkom nie. Ons sal alliansies en vennootskappe met ander wat soos ons dink, moet sluit en gebruik in ons optrede. Hier kom ‘n uitgerekte stryd om die reg tot privaatbesitreg te beskerm en in stand te hou” het Borcherds bygevoeg.
Die publiek van Suid-Afrika moet besef die ANC torring aan ‘n klousule van die grondwet wat nie net oor die privaatbesit van landbougrond gaan nie. Alle vorme van privaatbesit van alle klasse bates – ook pensioenfondse en beleggings – word hierdeur geraak. Landbougrond is tans net ‘n ge­rieflike politieke speelbal, en hou die aandag weg van die groter prentjie wat agter die beheptheid met die wysiging van Art 25 van die Grondwet is.
TLU SA
Na afloop van ‘n kitsberaad van belangegroepe wat Woensdag in Centurion gehou is, het Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA aan Polo­kwane Observer gesê dat TLU SA die saak so spoedig moontlik in die hof gaan beveg. “Ons is teen onteiening sonder vergoeding, ongeag van die sogenaamde kriteria waarvan gepraat word. Suid-Afrikaners en buitelandse beleggers moet besef dat dit nie net grond is wat geraak kan word nie, maar alle eiendom wat besighede, aandele, beleggings en patentregte insluit. Buitelanders moet met vertroue kan belê en as sekerheid van eiendomsreg eers in die weegskaal is, gaan die ekonomie onherstelbare skade ly,” sê Van Zyl en voeg by dat die regering van die dag met die oog op die komende verkiesing, sy eie voortbestaan bo die belang van die land plaas.
Van Zyl het daarop gewys dat meer as 70% van die landbougrond wat reeds nasionaal aan begunstigdes van die grondhervormingsproses oorgedra is, onproduktief geraak het. “Die feit dat meeste van die begunstigdes vergoeding in plaas van grond verkies het, het veel bygedra tot die ekonomiese krisis waarin die land homself tans bevind,” meen hy. Die African Farmers Association of South Africa (Afasa) het nie op ‘n versoek om ‘n inset te lewer, gereageer nie.
Politieke partye verdeeld oor kwessie
Die Demokratiese Alliansie (DA) en Congress of the People (Cope) het hul by die Vryheidsfront Plus (VF Plus) geskaar en aangedui dat hulle ook nie onteiening sonder vergoeding ondersteun nie. VF Plus se hoofsweep, Corné Mulder het verlede Dinsdag toe die verslag van die parlementêre komitee wat onteiening sonder vergoeding ondersoek het in die Parlement ter tafel gelê is, gesê dat die besluit oor onteiening sonder vergoeding ‘n gifkelk vir Suid-Afrika is. “Onteie­ning sonder vergoeding het die vermoë om enige staat ‘n internasionale uitgeworpene te maak,” het Mulder gesê en bygevoeg dat die verslag wat in die Parlement oorweeg is, die produk van ‘n gebrekkige deelnameproses is. Volgens Mulder is daar 33 openbare vergaderings gehou met ‘n moontlike deelname van 33 000 mense waarvan almal nie ten gunste van onteiening sonder vergoeding was nie. “Meer as 630 000 skriftelike voorleggings en meer as 200 000 e-posse is aan die komitee gestuur waarvan 75% gekant was teen verandering van die Grondwet,” sê Mulder en is van mening dat die skriftelike voorleggings nie eers oorweeg is nie.
Plaaslike rolspelers neem deel aan proses
Plaaslike rolspelers en ‘n groot groep landelike inwoners wat na bewering na ‘n openbare deelnamevergadering wat gedurende Junie in Mokopane gehou is, aangery is, het hul menings gelug tydens ‘n vergadering wat onder meer deur DA leier in Limpopo, Jacques Smalle, leier van Cope, Mosiuoa Lekota en Opperbevelvoerder van die EFF, Julius Malema bygewoon is.
Stedelinge en kommersiële boere bekommerd oor voedselsekerheid
Stedelinge wat om hul mening oor die beginsel van onteiening sonder vergoeding gevra is, besef dat dit op die langtermyn voedselsekerheid negatief gaan beïnvloed. “Daar is al reeds aanduidings dat boere traag is om verdere langtermynbeleggings in hul eiendomme te maak en dat insette afgeskaal word. Dit gaan beslis voedseltekorte in die hand werk en duur invoere noodsaak,” sê ‘n inwoner.
Kommersiële boere in die provinsie wat om kommentaar genader is, het aangedui dat hulle deur landbou-organisasies verteenwoordig word en nie in hierdie stadium persoonlik betrokke wil raak nie. “Ek is heeltemal bereid om enige grond wat ek gesteel het, aan die regmatige eienaar terug te gee, maar dit kom nou voor asof die nuwe wetgewing die staat gaan toelaat om te steel, want dit is wat neem sonder vergoeding beteken en dit word deur die Bybel verbied,” meen een van die boere.
Ad-hoc komitee sal wetsontwerp opstel
Die Nasionale Vergadering het verlede Donderdag ‘n mosie aanvaar vir die totstandkoming van ‘n ad-hoc komitee wat die wetsontwerp sal opstel wat OSV moontlik sal maak. Die ANC, EFF, UDM, NFP, AIC en APC het die mosie gesteun terwyl die DA, IVP, Cope, VF Plus en die ACDP daarteen gestem het.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Opperbevelvoerder van die EFF, Julius Malema lewer ‘n inset tydens die vergadering in Mokopane.
Exit mobile version