Local NewsNews

Bosveld vakansie wink vir wesies

Vir 'n klomp tieners van The House of Hope sal dit die eerste keer in hulle lewe wees dat hulle vakansie gaan hou, die vars bosveldlug gaan inasem en meer oor die plaaslewe gaan leer.

MOKOPANE – Ronel en Frikkie Nel van die plaas Rooipoort buite die dorp, maak hulle deure in Desember oop vir 17 tieners wat weggooi-kinders is, fisiek gestremd, mishandel of verwaarloos is.

Ronel vertel hoe sy en Frikkie betrokke geraak het by House of Hope en besluit het dat die kinders ‘n vakansie in die bosveld moet kom geniet.

“My dogter, Caromé Visser, is ‘n gerehabiliteerde heroïen verslaafde en my skoonseun, Stephan ‘n gerehabiliteerde dwelmverslaafde, satanis en motordiefstalbendelid.

Hulle het albei hulp gekry by die School of Fire naby Upington en daar het die Here hulle lewens verander. Beide het begin om te studeer vir Pastore, sendingwerk en berading. Caromé en Stephan is intussen beroep na die Deo Doxa gemeente in Welkom en het ook die Visser van Mense jeugbedieningsentrum gestig. Hulle is ook betrokke by House of Hope en het saam besluit om die kinders te bederf met ‘n vakansie in die bosveld.”

Ronel vertel die kinders wat se ouderdomme van 12 jaar tot 18 jaar wissel, sal van 16 tot 26 Desember op die plaas wees.

“Die kinders van House of Hope was nog nooit met vakansie nie en ek en Frikkie sien vreeslik uit om hulle te verwelkom. Gelukkig kom kuier hulle nie almal gelyk nie, maar is verdeel in twee groepe wat elk vir vyf dae hier sal wees.

Caromé en Stephan sal ook hier wees om hand by te sit met die vol program wat vir hulle beplan is”

Ronel sê hulle gaan die tieners meer leer oor die lewe op ‘n plaas.

“Aktiwiteite wat ons beplan is onder meer beet inlê, Kerskoekies bak, Kerskaartjies maak met hulle foto op en plant.

Ons wil graag vir elkeen sy eie potjie gee waarin hulle mint kan plant en saam terugvat.”

Ronel vertel opgewonde hulle gaan ook leer van hoendereiers uithaal, varke versorg en sal op die buurplaas sien hoe tamaties geoes word.

“Ons wil hulle lewensvaardighede leer en alles wat gedoen word om ‘n suksesvolle boerdery te behartig. Frikkie is ‘n elektrisiën en sal hulle ook basiese elektriese kennis leer soos hoe om ‘n kragprop aan te sit. Hulle gaan ook omgewingsveiligheid leer en bewusmaking van slange en die veiligheid daar rondom.”

Ronel en Frikkie kry geen subsidie van enige aard nie en dra al die kostes om die tieners te huisves. “Ons sal dit baie waardeer as die gemeenskap donasies of bydraes kan lewer om die vakansie vir die kinders ongelooflik te maak.”

Donasies/bydraes wat benodig word:

• 10 matrasse.

• voedsel soos kouevleis, vleis, brood, eiers, melk, mieliemeel, broodrolletjies, koffie, suiker, oatspap en groente.

• peuselhappies soos ysies, roomys, koeldrank, skyfies of koekies.

Indien jy kan help kontak Ronel by 082 493 2944.

bosnews@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button