Botsing in stad eis jong man

Die 23-jarige Driaan du Plessis, wat in 2013 aan Hoërskool Pietersburg (PHS) gematrikuleer het, is Maandagmiddag noodlottig beseer in ‘n kop-aan-kop-botsing waarby drie voertuie in Munniklaan betrokke was. Sy pa, Andries, het hom as vriendelik, opgewek en liefdevol beskryf en gesê dit is nog nie duidelik wat die botsing veroorsaak het nie. Dit is die …

Die 23-jarige Driaan du Plessis, wat in 2013 aan Hoërskool Pietersburg (PHS) gematrikuleer het, is Maandagmiddag noodlottig beseer in ‘n kop-aan-kop-botsing waarby drie voertuie in Munniklaan betrokke was.
Sy pa, Andries, het hom as vriendelik, opgewek en liefdevol beskryf en gesê dit is nog nie duidelik wat die botsing veroorsaak het nie.
Dit is die tweede tragedie wat die gesin in byna twee jaar tref. Driaan se ma, Ria, ‘n bekende gesig by Kansa Polokwane is in Januarie verlede jaar aan ‘n hartaanval oorlede.
Andries sê sy seun was ten tye van sy dood nie werksaam nie, maar was voorheen by ‘n plaaslike motorhandelaar in diens.
Driaan was glo saam met twee vriende in die motor toe die botsing gebeur het. Die vriend wat voor in die passasiersitplek gesit het, het blykbaar ook ernstige beserings opgedoen terwyl die vriendin wat agter in die motor was slegs lig beseer is, volgens Andries. Hy is nie seker van die toestand van die insittendes in die ander twee voertuie nie.
Benewens sy pa, laat Andries sy suster Andria en broer, Andries, agter. ‘n Roudiens word Maandag om 12:00 vanuit die Hervormde Kerk Moedergemeente gehou.
Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag, volgens Polokwane polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version