Local NewsNews

Pik Up kry die werk gedoen in japtrap

Hoewel die nuwe Mahindra Pik Up in die dorp gemaklik bestuur, is dit op plaaspaaie waar dié voertuig tot sy volle reg kom.

MOKOPANE – Bosveld het die nuwe Mahindra S6 enkelkajuit 4×2 bakkie toetsbestuur en ons verwagtinge is oortref. Dié bakkie is duidelik ontwerp om grondpaaie te troef.

Bestuur op ‘n klipperige grondpad was als behalwe ‘n probleem en selfs wanneer daar voet in die hoek gesit word tussen die besige verkeer in die dorp het die Mahindra met sy krag verras.

Die bakkie het vinnig spoed opgetel in lae rat en spog met ‘n ses-spoed ratkas. Daar is dus geen te kort aan krag nie en die voertuig lewer 103kW@2750 r/min en handhaaf ook glo 7.7 L/100km se brandstof verbruik, teenoor die 4×4 S6 wat glo 7.9 L/100 km verbruik. Jy bespaar ook diesel deur van die ‘Mycro hibryd’ (‘start/stop’) tegnologie gebruik te maak.

Die kajuit van die Mahindra Pik Up het genoeg beenspasie met gemaklike sitplekke.

Die voertuig word in Indië vervaardig en is duidelik gebou om sterk en prakties te wees met sy groot bak. Die bak kan 1 195 kg se vrag vat. Hy kan ook ‘n geremde sleep van tot 2 500 kg hanteer en ongeremde sleep tot 750 kg.

Om die groot bakspasie te regverdig, is die voertuig ‘n verbasend 5,175 m lank.

‘n Groot bak van die nuwe Mahindra Pik Up.

Die S6 Pik Up het tipiese kenmerke soos voorste mislampe, hoë vlak remligte, ‘n geïntegreerde enjinkap en kleur gekodeerde buffer, spieëls en deurhandvatsels. Wat gemak betref staan die bakkie nie terug nie en die lugverkoeling hou die warm bosveldson buite terwyl jy ook die keuse het om met die krag-vensterknoppies vars lug in te laat.

Agter die sitplekke is daar heelwat spasie vir persoonlike items.’n Standaard geïntegreerde klankstelsel met USB en ‘auxilliary’ poorte is deel van die binnekajuit en ‘n 12V laaipunt vir jou selfoon.

Die veiligheid van die bestuurder en passasier is belangrik en daarom is daar lugsakke vir albei insittendes sowel as ‘n veiligheidsgordel herinnering.

Of jy ‘n boer of konstruksiewerker is, dié bakkie sal die werk gedoen kry!

lionel@nmgroup.co.za

Related Articles

Back to top button