Mokopane begraafplaas verniel na opknap

Die harde en goedhartige werk van 'n sakeman is daarmee heen nadat die begraafplaas onlangs deur vandale geplunder is.

MOKOPANE – Bosveld het Jaco Smit, eienaar van D&J Dromdienste, en Marcelle Maritz, Raadslid en Limpopo leier van Vryheidsfront Plus, op Woensdag, 7 November, by die begraafplaas ontmoet. Dit is hier waar Smit onlangs hard gewerk het om die begraafplaas op te knap.

Smit vertel hy het besluit om ‘n gratis diens aan die gemeenskap te lewer, maar sy moed het in sy skoene gesak toe hy sien hoe sy harde werk geplunder en gevandaliseer word.

“Die klippe wat ek om die laningbome geverf en netjies gepak het, lê die hele wêreld vol. Die vullisdromme wat ek neergesit het, is uitgegooi en lê in die veld. Ek kan nie verstaan hoe mense dit kan doen nie. Ek lewer die diens uit die liefde van my hart en vra net respekteer dit wat ek hier doen.”

Die netjiese ingang nadat Jaco Smit (Eienaar van D&J Dromdienste) ‘n vullisdrom aangebring het en buitebande geverf en plante geplant het.

Volgens Smit het hy nog baie planne om die begraafplaas netjies te maak. “Ek het die gebou op die terein uitgeverf en klaar nuwe deure om die oues te vervang. Ek beplan ook om die plafonne en die dak oor te doen. Die gebou kan die munisipale werkers as ‘n kombuis gebruik. In die stadium gebruik hulle ‘n onooglike staal container. Ek het ‘n nuwe ketting en slot by die ingangshek aangebring en wil ‘n spreilig oprig wat dit veiliger sal maak om verdagte mense in die nag maklik op te merk.”

Die randstene was netjies voor dit geplunder en oral rond getrooi is.

Maritz sê dit is hartseer om te sien hoe mense wat die dorp wil regruk se harde werk verwoes word. “Die skuldiges moet weet hulle sal vir hulle dade gestraf word en hulle sal hulself eendag in die lang arm van die gereg vasloop.”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version