Onkunde blaas brand aan – Andy Goetsch

Die gedrag van nuuskierige omstanders het die werk van die Brandweer en Working on Fire Saterdag, 24 Oktober bemoeilik tydens ‘n verwoestende brand wat groot skade aan boere van Uitloop gerig het.

LIMPOPO –  Een van die plaashuise het tot op die grond afgebrand.
Andy Goetsch, President van Mokopane Sakekamer, sê die mense se nuuskierigheid en onkunde met so brand geval het hom verbaas.
“Die Brandweer en Working on Fire (WoF) het Saterdag en Sondag die heeldag vure geblus. Daar was Saterdag talle nuuskieriges wat paaie geblokkeer het net om te sien wat aangaan. Hulle besef nie hulle bemoeilik die werk van die Brandweer en WoF nie. Die Brandweer moet gereeld watertanks hervul en kon dit nie doen omdat paaie geblokkeer was deur nuuskierige toeskouers.”
Goetsch sê hy het ook opgemerk hoe moeilik dit is om by plase uit te kom.
“Daar is geen naamborde met kontaknommers nie en nooddienste sukkel dan om die plase op te spoor. Dit is ook belangrik dat plaaswerkers opgelei is om in noodgevalle te weet hoe om op te tree en wie om te kontak.
“As daar grasdakhuise op die plaas is en jy weet daar is ‘n brand in die omgewing moet jy eerstens die dak goed natgooi en ook om die huis. Gras moet ook om die huis kort gehou word.”
Goetsch sê hy wil ook in die media ‘n regstelling maak oor sy aantuigings in ‘n opebrief wat in Bosveld se uitgawe van 12-18 Oktober gepubliseer is. In die brief het hy gesê dat indien daar ‘n groot vuur in die dorp is sal die brandweerpersoneel nie weet hoe om toerusting te gebruik nie.
“Ek het Saterdag gesien dat die brandweermanne hulle werk kan doen en dat hulle alles sal gee om brande te beveg om die veiligheid van die gemeenskap te verseker.
“Ek wil die voorstel maak aan elke boer om aan te sluit by die Brandbeskermingsvereniging (BBV) teen ‘n nominale jaarlikse bedrag om te verseker dat hy ten alle tye die ondersteuning van Working on Fire sal hê. Mark Weyford, Bestuurder van WoF, voeg by dat volgens die Nasionale Veld en Boswet moet elke plaas brandbane hê.
“Omtrent 60% van die plase wat ek al besoek het, voldoen nie aan die wet nie. Dit is ‘n gratis diens wat WoF vir sy lede aanbied in die droëseisoen. Ek wil ook vra dat alle brandgevalle aangemeld moet word by die Brandweer by 015 491 4444.”
Dit was vir Marcelle Maritz, Limpopo Leier van Vryheidsfrontplus, ‘n vreesaanjaende toneel wat haar Saterdag by die plase begroet het.
“Die vuur het Saterdagoggend ongeveer 10:00 begin en gou versprei. Die vlamme was hemelhoog en die rukwinde het die rigting wat die vuur hardloop, so onvoorspelbaar gemaak ‘n mens kon nie bepaal waarheen die brand sal gaan nie. Een oomblik beveg Working on Fire, Tobie van Deventer, en sy brandweermanne die brand in ‘n noordelike rigting en skielik verander die windrigting in ‘n oogwink en hardloop die vuur suid.
“Dan moet die brandweer en WoF se manne weer in die voertuie spring en na ‘n ander plaas ry om dit daar te beveg.
“Wat dit nog moeiliker gemaak het, is dat die vuur oor verskeie plase gebrand het en verskeie paaie geneem moet word om dit te bereik. Dan kry mens nuuskierige mense wat die pad blokkeer en dit vir die brandweer en WoF onmoonlik maak om toegang tot die plase te verkry.”

Net die leë dop is oor na ‘n verwoestende brand.

Mariaan van der Heyde, Dan van Eyk se dogter, sê hulle plaas se veld het heeltemal afgebrand.
“Ons is opreg dankbaar vir elke helpende hand tydens Saterdag se geveg om die vure te blus. ‘n Spesiale dank aan Tobie Van Deventer van die Brandweer, sy span en die WoF span. Was dit nie vir hulle wat so hard gewerk het nie, kon ons groter skade gehad het. Baie sterkte aan die families wat groot skade gely het.”
Pieter Pretorius se ouers was nie so gelukkig nie en hulle huis het tot op die grond afgebrand.
“Gelukkig was my ouers nie op die plaas toe die brand uitgebreek het nie en is ek dankbaar dat hulle veilig is.”
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version