My kind maak nog bed nat, wat nou?

Baie ouers het die probleem van kinders wat nog bednatmaak. Review het met Annamarie de Villiers gesels oor die netelige kwessie.

POLOKWANE – Dis Maandagoggend en die kinders sukkel om wakker te word.

Herman (6) is in gr.1 en moet eers voor skool bad nadat hy vir die hoeveelste nag sy bed natgemaak het. Sy ma, Sandra, is moedeloos, want behalwe dat daar elke dag lakens gewas moet word, sien sy hoe haar eens vrolike rooikopseun stadig al hoe stiller en stiller raak. Hy kyk haar nie eers meer in die oë as sy hom by die skool gaan haal nie.

Sandra is nie die enigste ma met haar hande in haar hare nie en baie ouers het die probleem van kinders wat nog bednatmaak.

Review het met Annamarie de Villiers gesels oor die netelige kwessie.

“Kinders van die ouderdom van ongeveer vyf tot ses jaar af, het gewoonlik reeds beheer oor hulle blase. Seuns ontwikkel blaasbeheer soms later as meisies, maar teen ses of sewe jaar, behoort bednatmaak iets van die verlede te wees,” vertel sy.

“Daar is verskillende redes vir bednatmaak. Gewoonlik hou dit met onderliggende spanning verband. Wanneer ‘n kind geboelie word, kan hy begin om weer sy bed nat te maak. Enige verandering in roetine, positief of negatief, kan lei tot bednatmaak. Die geboorte van ‘n nuwe baba, om te verhuis of selfs ‘n gesinsvakansie. Sommige kinders produseer meer urine deur die nag of het ‘n verminderde kapasiteit van die blaas om die urine in die nag te stoor. ‘n Ooraktiewe blaas kan ook die probleem wees. Party kinders word nie wakker wanneer hulle blaas vol is nie.”

Dikwels is daar ‘n onderliggende urienweginfeksie wat kan lei tot bednatmaak, so mediese redes moet ondersoek word. “Moet egter nie te vinnig gryp na medikasie nie, in baie gevalle kan die medikasie die probleem oor die langtermyn vererger en het dikwels ander nadelige newe-effekte. Dokters skryf dikwels ‘n ligte anti-depressant voor vir bednatmaak en by sommige kinders kan dit hulle gemoed heeltemal deurmekaar en aggressief maak.”

Die uitwerking van bednatmaak op kinders is geweldig. Kinders begin lei aan ‘n lae selfbeeld en sal homself sosiaal onttrek. Hy mag dalk lei aan angsversteuring en sal nie graag by sy vriende wil oorslaap nie.

“Maak seker dat jou kind weet dat dit ‘n algemene probleem is en dat dit nie sy skuld is nie. Daar is doeltreffende behandeling beskikbaar, kontak jou dokter. Moedig ook jou kind aan om gereeld deur die dag badkamer toe te gaan and saans, net voor hy gaan slaap weer. Beperk ook sy vloeistof innames en moedig hom aan om aktief te wees.”

Indien daar nie ‘n fisiologiese of mediese oorsaak vir die bednatmaak is nie, kan ‘n paar speelterapiesessies help met die verwerking van spanning en emosionele oorsake.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version