‘Dankbaar, maar sentimentele waarde kan nie vervang word nie’

Peet Venter wat vir jare lank kos verkoop uit 'n waentjie voor die poskantoor in Landdros Maréstraat en toe later in Dorpstraat se waentjie is Donderdag, 25 Oktober in die vroeë oggenure gesteel.

POLOKWANE – Peet, ‘n pensioenaris het as ‘n tweede inkomste kos verkoop en hy was veral gewild vir sy pannekoeke.

Elke aand parkeer Peet sy waentjie op die sypaadjie voor sy huis in Mimosastraat, en vir meer as 18 jaar was dit nog altyd veilig daar tot Donderdagoggend om 04:00 toe sy buurvrou agterkom sy waentjie is weg, maar sy bakkie is nog geparkeer in sy jaart.

“Ek het net na 05:00 wakker geword en besef my krag is af. Dit het my nie gepla nie, want dis mos nie iets snaaks in ons dorp nie. Kort daarna het my buurvrou my gebel en laat weet my waentjie is weg. Ek het dadelik gaan kyk en net twee slotte gekry lê waar my waentjie altyd staan,” verduidelik Peet.

Hy vertel dat hy elke aand sy waentjie aan ‘n kragkapbel sit om die yskas koud te hou. “Ek vermoed die skelms het nie geweet van die kragdraad nie en toe hulle die waentjie sleep, het hulle die kragdraad los geruk, wat my krag to laat uitskop het.”

Peet sê terwyl hy regmaak om polisiestasie toe te gaan om ‘n saak te open, het ‘n man hom genader en gesê hy weet waar sy waentjie is.

“Toe ek hom uitvra oor my waentjie, het hy aan my vertel dat hy die skelms, twee mans, gehelp het om my waentjie te sleep tot by ‘n huis in Westenburg. Die man sê toe hulle stop by die huis in Westenburg het die manne die laaste slot aan die waentjie oopgebreek en die geld in die kasregister onder hulle gedeel, maar niks vir hom gegee nie, en toe hy vra vir sy deel, het hulle hom aangerand en daarom het hy besluit om uit te kom met die waarheid,” vertel Peet.

Hy is toe met die man na die polisiestasie toe en ‘n saak is geopen. Die man is gearresteer en aangeklag as medepligtige in diefstal.

Peet is met die polisie na die huis waar sy waentjie is en hy het dit toe uitgeken as syne. Later die dag is Peet met die hulp van sy buurman, na die huis waar hy sy waentjie gaan haal het. Alles in die waentjie binne is verwyder, insluitend die gasbottels en die bande was ook afgehaal.

“Ek het sowat R9 000 se goedjies binne gehad en dan praat ek nie eers van die menger, kasregister en gasbottels wat weg is nie. Remax het my waentjie gesponsor en buite om my waentjie is Remax op. Die skelms het die buitekant van die waentjie swart geverf om die Remax tekens aan die kante af te haal. Daar is ook skade aan die buitekant waar hulle probeer het om die registrasieplaatjie af te breek en die staander af te haal. Die sinkdak is ook gebreek en geskeur,” verduidelik Peet.

Volgens Peet gaan Remax hom weer help om sy waentjie reg te maak, maar dit gaan tyd vat.

“Die goed binne soos die koeldrank kan mens nog vervang, maar daar was ander goed in die waentjie wat sentimentele waarde gehad het, soos die borde wat ek van ‘n familie lid gekry het voor sy dood, wat nie kan vervang word nie. Ek wil graag aan al die mense wat die nuus so vinnige versprei het, die polisie en ook die mense van Westenburg bedank dat hulle my so mooi gehelp het. Dit gaan bietjie tyd vat, maar ek weet ek sal weer op die been kom,”vertel Peet.

Klante kan nog hul bestellings insit vir Peet se lekker pannekoeke. Tot sy waentjie weer reg is, gaan hy van sy huis af werk. Mense kan hul bestellings insit by 079 080 6262.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version