NewsSchools

Marné Ebersohn Akademie bied vir elkeen vele geleenthede

Elke personeellid en leerder by Marné Ebersohn Akademie is deel van ‘n familie wat mekaar se belange op die hart dra en waar genoeg ruimte geskep word om individuele prestasies te erken. Die skool is op 1 Januarie 2013 deur Stefan en Mariette Ebersohn gestig en vernoem na hul dogter, Marné, wat op 7 November …

Elke personeellid en leerder by Marné Ebersohn Akademie is deel van ‘n familie wat mekaar se belange op die hart dra en waar genoeg ruimte geskep word om individuele prestasies te erken.
Die skool is op 1 Januarie 2013 deur Stefan en Mariette Ebersohn gestig en vernoem na hul dogter, Marné, wat op 7 November 2011 op 10-jarige ouderdom oorlede is.
“Marné was ‘n uitbundige en liefdevolle kind wat met almal om haar bemoeienis ge­maak het. Sy het vaste beginsels nagestreef en ‘n sterk selfbeeld gehad. Op ‘n vroeë ou­derdom het sy reeds geweet wie sy is en wat sy in haar lewe kon bereik. Haar dood was vir ons ‘n geweldige terugslag, maar ons is baie trots daarop dat die skool na haar vernoem is omdat sy dit waardig was. Ons glo dat ons harde werk en toewyding aan elke leerder by die skool ook haar naam waardig is,” sê die Ebersohns.
Volgens Mariette, skoolhoof, vorm die skool se leuse – LIEFDE, ROETINE EN DISSIPLINE die fondasie van alles wat die skool nastreef en waarop hul daagliks voortbou.
“Ons glo dat elke kind binne die raamwerk van ons skoolleuse veilig en geborge kan funksioneer om sy of haar volle potensiaal te bereik en uit te leef,” sê Stefan, hoof-uitvoe­rende beampte.
Marné Ebersohn Akademie is ‘n skool wat geïntegreerde onderrig gee vir leerders vanaf graad R- tot en met graad 12-vlak.
Graad 12-leerders word aan die einde van hul skoolloopbane aan die evalueringsriglyne van die Independent Examination Board (IEB) onderwerp.
Vir graad tien- tot 12-leerders word Wis­kunde, Wiskundige Geletterdheid, Rekenaartoepassingstegnologie, Verbruikerstudies, Toe­risme, Lewenswetenskap, Besigheidstu­dies, Landboubestuurspraktyk, Rekeningkunde, Fisiese Wetenskap en Ingenieursgrafika en Ontwerp aangebied.
Wat sê Marné Ebersohn Akademie se leiers in graad 10 en 11:
Cole Gilburt: “Hierdie skool is anders as die gewone staatskole. Hier is direkte kontak tussen leerders, die personeel en bestuur. Pro­bleme word dadelik aangespreek en opgelos en klein klasse bied aan leerkragte meer tyd om ondersteuning aan individuele leerders te gee. Ek is seker ons IEB-eksamens is van ‘n hoër standaard as by staatskole en jy weet jy het jou kwalifikasie verdien.”
Deoné Steynberg: “Ek het myself hier ge­vind omdat dit ‘n klein skool is waar jy jouself kan uitleef. Almal hier is vriende en ons is een groot familie.”
Dewald du Toit: “Hier is vir elkeen geleent­hede vir deelname en individuele prestasies word erken. Almal kry ‘n kans om raakgesien te word en dit bou jou selfbeeld.”
Michelle Norman: “Ek het by Marné Ebersohn Akademie geleentheid gekry om in sport uit te blink.”
Michaela Partridge: “Hier is ‘never a dull moment’ Almal lag en speel saam en dra mekaar se belange op die hart. Ek het hier geleer om nader aan die Here te kom.”
Buksie Swart: “Alhoewel dit ‘n klein skool is, is hier baie voorbeelde van goeie leiers na wie ek as rolmodelle opsien. Meneer Stefan (Ebersohn) is soos ‘n pa vir ons. Hy is baie regverdig maar jy moet weet daar gaan ge­volge wees as jy reëls oortree.”
Shaun Swart: “Dit is ‘n besondere skool waar ek dadelik ingepas en aangepas het. Ek is hier as leier gekies wat nie in ‘n groot skool moontlik sou wees nie.”
Lee-Ann Roos: “Almal word oor dieselfde kam geskeer en regverdig behandel. Ons word baie gehelp en goeie maniere en waar­des geleer. Almal aanvaar mekaar onvoorwaardelik.”
Jaq-Marie Cronjé: “Ek was my hele lewe ‘n introvert, maar het hier verander in ‘n ekstrovert wat geleer het om my lief en leed met ander te deel en nie dinge op te krop nie.”

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Cole Gilburt, gr 11.
Deoné Steynberg, gr 11.
Dewald du Toit, gr 11.
Michelle Norman, gr 11.
Michaela Partridge, gr 11.
Buksie Swart, gr 10.
Jaq-Marie Cronjé, gr 10.
Lee-Ann Roos, gr 10.
Shaun Swart, gr 10.

 

Related Articles

Back to top button