Local NewsNews

BREAKING NEWS – Atlete se eerbetoon aan Pierre en Erika Bantjes

Verbygangers word sedert Saterdag met hartroerende tonele by Salon Deo Volente in Natorpstraat begroet waar atlete uit eerbetoon vir die afgestorwe egpaar, Erika (44) en Pierre Bantjes (44), hul atletiekmedaljes teen die perseel se hek ophang. Erika is die eienaar van die salon en het al 15 keer die Comrades voltooi. Sy het gereeld aan …

Verbygangers word sedert Saterdag met hartroerende tonele by Salon Deo Volente in Natorpstraat begroet waar atlete uit eerbetoon vir die afgestorwe egpaar, Erika (44) en Pierre Bantjes (44), hul atletiekmedaljes teen die perseel se hek ophang.
Erika is die eienaar van die salon en het al 15 keer die Comrades voltooi. Sy het gereeld aan marathons en ultramarathons deelgeneem. Haar suster, Colinda Potgieter en broer, Johan van der Merwe, is albei kranige atlete.
Die egpaar is Vrydagmiddag op die N1 naby Kranskop in ‘n botsing dood toe hul op pad na Pretoria was om vir hul kinders, Zulithe, ‘n graad 11-leerder aan die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria en Altus, ‘n graad 8 -leerder aan die Afrikaanse Hoër Seunskool te gaan kuier. Zulithe het Vrydagmiddag aan ‘n sangkompetisie deelgeneem wat die egpaar sou bywoon.
Departement van vervoer en gemeenskapveiligheids-woordvoerder, Matome Moremi-Taueatsoala, het vanoggend bevestig dat ‘n totaal van 26 mense tydens die botsing omgekom het. Volgens hom het die vragmotor, wat in ‘n suidelike rigting onderweg was, se voorste band gebars waarna die bestuurder beheer verloor en voor aankomende verkeer beland het.
Vier en twintig mense wat in ‘n minibustaxi vervoer is, is dood terwyl vier ander ernstig beseer is. Vyf voertuie was in die botsing betrokke.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe, sê ‘n saak van strafbare manslag word ondersoek terwyl die proses om al die slagoffers te identifiseer voortgaan.
Premier Stan Mathabatha, het gister oorlewendes in Mokopane Provinsiale Hospitaal besoek en familie tydens die uitkenproses bygestaan. Hy is deur die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, Makoma Makhurupetje sowel as gesondheids-LUR, Phophi Ramathuba, vergesel.
Hy het sy meegevoel teenoor familie en vriende uitgespreek.

 

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button