Mokopane parapleeg neem eerste tree na 17 jaar in ‘n rolstoel

Vir Francois Bosman, 'n parapleeg, was daardie oomblik een wat hy nooit sal vergeet nie.

MOKOPANE – Dit was ‘n gevoel wat hy nooit sal vergeet toe hy onlangs uit sy rolstoel opstaan en sy eerste tree in 17 jaar gee. Vir Francois Bosman, ‘n parapleeg, was daardie oomblik een wat hy nooit sal vergeet nie.

Francois was 17 jaar gelede in ‘n ernstige motorfietsongeluk. Hy vertel hy het net na 18:00 op 24 April 2001 ‘n aflewering vir Tooltric gedoen toe die bestuurder van ‘n bakkie voor hom ‘n U-draai op die hoek van De Klerk- en Hoogestraat gemaak het.

“Ek het onder die bakkie beland en my T3 en T4 rugwerwels vergruis. Ek is sedert die ongeluk in ‘n rolstoel vasgekluister.”

‘n Opgewonde Francois Bosman voor hy met die Rewalk en Restore Ekso-skeleton begin stap.

Francois sê hy het vir 17 jaar gesoek na ‘n manier om sy lewensgehalte ‘n bietjie beter en makliker te maak.

“Daar is nie veel opsies wat bekostigbaar is nie, maar ek het nie moed opgegee nie.”

Hy het ‘n paar weke gelede die legendariese man en eienaar van XO Needs ontmoet.

“XO Needs het die alleenregte vir verspreiding in Suid-Afrika gekry van twee unieke produkte, ‘n Eksobionics GT Ekso-skelet en die Rewalk en Restore Ekso-skeleton en só het my reis begin om weer te kan loop.”

Francois is nou besig met ‘n 52 sessie rehabilitasieprogram wat deel van sy nuwe lewe sal wees, maar teen ‘n prys.

Hy reis van Mokopane na Pretoria en terug elke tweede naweek vir die program in die Eksobionics GT Ekso-skelet. Hierdie koste beloop sowat R1 000 per sessie en hy kan slegs vier sessies van sy mediese fonds eis.

“As mens jou vervoerkoste, tolhekgeld, verblyf en kos moet inreken is die totale bedrag vir die 52 sessies ongeveer R200 000.

Die lewensgehalte wat ek deur die rehabilitasie kan kry, hou egter groot gesondheidsvoordele in en ek en glo nie ‘n mens kan dit aan ‘n bedrag koppel nie.”

Francois vertel opgewonde hoe hy tydens die eerste sessie opgestaan en sy eerste tree gegee het.

“Ek sukkel om die gevoel te verwoord. Dit was vir my ‘n emosionele dag gewees net om mense vir die eerste keer reguit in die oë te kan kyk was oorweldigend.

Om daardie eerste tree na 17 jaar te gee is iets wat ek altyd sal onthou en dit dryf my om elke keer ‘n bietjie verder te loop.”

Hoewel ‘n langpad voorlê, het sy deursettingsvermoë hom gehelp om in September al meer as 1 000 tree te loop.

Francois wil graag ‘n Rewalk en Restore Eksoskeleton koop om weer tuis te kan loop of op die strand en in die winkelsentrums te kan stap, of net om iets so eenvoudig soos ‘n wandeling in sy eie tuin sal al ‘n lewensveranderende gebeurtenis wees.

Die koste is egter baie hoog, sowat R1,8 miljoen.

Francois sê hy besef dit is baie geld.

“Met die toestel kan my lewe soveel verander en dit is ‘n droom om weer te loop sonder dat mense jou aanstaar.”

Francois vra die gemeenskap se hulp om geld in te samel vir die koste om die 52 sessies te dek en om op die einde van die dag ‘n Rewalk en Restore Ekso-skeleton te koop.

“Besighede is ook welkom om skenkings te maak en die besighede wat skenkings maak sal blootstelling kry op sosiale media en in al my promosievideo’s verskyn.

Dokumentasie aan skenkers sal ook verskaf word vir belasting voordele.”

Francois bedank sy werkgewer Tooltric, sy familie, vriende en borge wat reeds na vore gekom het.

“Sonder die mense in my lewe sou dit ‘n baie eensame pad gewees het.”

Volg Francois op sy Facebookblad ‘I walk with Francois’ en diegene wat belangstel om Francois te borg kan hom kontak op 082 570 9384.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version