Só maak Anette ‘n verskil in ander mense se lewens

Met iemand se voete in haar hande is waar jy Anette Venter gedurende die dag sal kry. Anette is ‘n refleksioloog wat daarvan hou om ‘n verskil in ander mense se lewens te maak.

POLOKWANE – Anette was ‘n gasspreker by die Teesakkie@Susters wat Saterdag onlangs bymekaar gekom het. Tydens die kuier het sy meer van refleksiologie aan hulle vertel.

Anette is in Polokwane gebore en getoë en het na skool haar B.A. opvoedkunde graad deur Unisa voltooi. “Ek het by verskeie rekenmeesterfirmas en prokureursfirmas in die stad gewerk asook by die regsafdeling van die munisispaliteit. In 2002 het ek besluit om vir ‘n reflesioloog te studeer, maar op daardie stadium was dit so onbekend dat ek gesukkel het om kliënte te werf. Dit was die regte ding, maar die verkeerde tyd.”

Sy vertel dat sy na haar aftrede ‘n diploma in berading voltooi het en haar ook as lewensafrigter gekwalifiseer het, aangesien sy nie net haarself wou besig hou nie, maar ook ‘n verskil in mense se lewens wou maak.

“Die lewensafrigting het goed verloop, maar selfs dit was in daardie tyd ‘n vreemde konsep vir Polokwane. Toe bid ek en vra vir die Here wat kan ek doen om ‘n verskil in mense se lewens te maak. Die antwoord was duidelik refleksiologie. As ek gehoorsaam is, sal Hy die mense stuur.”

Sy vertel dat die lekkerste is om ‘n verskil in mense se lewens te maak en wanneer hulle terugkom aangesien hulle so goed voel na ‘n behandeling.

“Een van die grootste uitdagings is dat mense verwag ek moet hulle diagnoseer en ek mag nie. Ek is nie ‘n dokter nie. Hulle verwag ook dat die behandeling hulle probleem gaan oplos. Refleskiologie is ‘n natuurlike behandeling wat tyd neem.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version