Vermiste bejaarde buite stad gevind

‘n Uitgehongerde en verwarde Boet Hattingh wat sedert 20 September soek was, is Vrydagaand deur ‘n verbyganger aan die buitewyke van die stad gevind. Hattingh (65) is Dinsdag na familie in Middelburg geneem waar hy mediese behandeling sal ontvang omdat hy waarskynlik ook aangerand is. Polokwane Observer het verlede week aanlynberig dat hy van hoewe …

‘n Uitgehongerde en verwarde Boet Hattingh wat sedert 20 September soek was, is Vrydagaand deur ‘n verbyganger aan die buitewyke van die stad gevind.
Hattingh (65) is Dinsdag na familie in Middelburg geneem waar hy mediese behandeling sal ontvang omdat hy waarskynlik ook aangerand is.
Polokwane Observer het verlede week aanlynberig dat hy van hoewe 92, Leeuwkuil, waar hy woonagtig is, vermis geraak het.
Volgens sy skoonseun, Kobus Mienie, het Hattingh ‘n saamryge­leentheid stad toe gekry om ‘n vriend te besoek, maar glo nooit by sy bestemming opgedaag nie en is die volgende dag vlugtig in Devenishstraat gewaar.
Inwoners het sedert die aanlynberiggewing beweer dat hulle hom elders in die stad gesien het.
“‘n Verbyganger was bewus van die soektog na die vermiste man en het Vrydagaand ‘n persoon net buite die stad gewaar. Hy het eers verbygery, maar met die terugkomslag gesien dat hy steeds daar lê en gestop waarna hy my skoonpa as die vermiste persoon geëien het,” sê Mienie.
Die barmhartige samaritaan het die kontakbesonderhede in die berig gekry en vir Mienie geskakel. “Ek het vir ‘n foto gevra en was baie verlig dat hy gevind is al weet ons nie wat gebeur het nie. Hyself kan nie onthou wat die afgelope twee weke gebeur het of waar hy laas was nie, maar het wel gesê iemand het hom met ‘n sambok geslaan. Hy is uitgehonger en baie deurmekaar,” meen Mienie wat later agter die kap van die byl sal probeer kom.
Die familie is baie dankbaar dat hy leef en bedank Polokwane-inwoners wat ag op die beriggewing geslaan het.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version