Die mans agter die Divas of Drag

Dié divas het Polokwane, Saterdagaand besoek en Review het met hulle gesels kort voor hul vertoning.

POLOKWANE – Die definisie van ‘n drag queen is volgens die woordeboek ‘n man wat oordrewe in vroue se klere aantrek. Divas of Drag is drie mans wat gehore regoor die land vermaak met skreeu snaakse vertolkings van bekende liedjies.

Dié divas het Polokwane, Saterdagaand besoek en Review het met hulle gesels kort voor hul vertoning. Die divas is al tussen nege en 20 jaar op die verhoog, maar het elkeen ook ‘n ‘normale’ werk. Paul van Zyl, wie se verhoognaam Levine Dolcevita is, het ongeveer nege jaar gelede die Miss Ramp Diva kompetisie gewen. “Dit was hier waar my loopbaan as drag queen begin het. Gedurende die dag is ek ‘n rekenmeester en in ‘n baie gelukkig verhouding.”

Christopher William, of te wel Kitana, se loopbaan het 18 jaar gelede by ‘n klub, New Moon, in Hillbrow begin. “Ek is ‘n besigheidseienaar en pro-kunstenaar. Ek werk vir Tom Ford en Estee Lauder.”

Chané se regte naam is Selwyn Thomas en hy vertel sy loopbaan het by ‘n klub met die naam Too Wong Foo in Springs begin. “Dit was 20 jaar gelede en ek geniet dit vreeslik. Ek is tans tussen werke, maar is ‘n geleentheidsbeplanner van beroep.” Die drie tree elke Vrydag- en Saterdagaand op en trek vol sale na hul vertonings.

“Ons bied ook bachelorettte-partytjies aan en baie mense nooi ons om vermaak te kom verskaf by verjaarsdagpartytjies,” vertel Levine.

“Ons optrede is net dit, ‘n optrede en ons trek nie daagliks vroue klere aan nie.”

Levine maak meeste van sy eie rokke en die drie werk self die choreografie uit vir die optredes. Hulle is ook professionele dansers.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version