Mokopane egpaar trap 850 km kaf vir disleksie

Die besluit het nie maklik gekom vir Emile en Sanel Honiball nie, siende dat nie een van hulle enige sport beoefen of kranige fietsryers is nie.

MOKOPANE – Twee bekende inwoners van Mokopane, Emile en Sanel Honiball, het pas 850 km op hul fietse afgelê vir die bewusmaking van disleksie.

Die besluit het nie maklik gekom vir die egpaar nie, siende dat nie een van hulle enige sport beoefen of kranige fietsryers is nie. Sanel sê dit was tyd dat sy haar jaarlikse verlof moes neem en sy wou iets doen wat vir haar betekenis het. “Ek wou nog altyd Victoria Falls toe gaan. Toe dink ek dit is tog so gewoon om met ‘n motor te ry kom ons doen iets anders. Oktobermaand is disleksie maand en ek vertel toe vir Emile van my plan dat ons vir die bewusmaking van disleksie binne ‘n week met fietse van Victoria Falls tot by die Suid-Afrikaanse grens by Martinsdrift moet ry. Hy het dadelik vir my gesê ek is mal,” lag Sanel.

Sanel en Emile Honiball 10 km voor Kasane in Botswana.

“Ons is nie eers fietsryers nie en dit is ook die warmste tyd van die jaar in Botswana, die temperatuur klim maklik tot bo 45 grade. Daar is nog die wilde diere ook, maar ek het by my besluit gehou en Emile het maar later ingestem. Hy weet hoe hardkoppig ek kan wees.

“Vir ons het dit gegaan om uit ons gemaksone te kom en in ‘n situasie te wees waaraan ons nie gewoond is nie. Dit was ‘n vreeslike uitdaging en ons moes met die geharde weersomstandighede stoei, het nader kennis gemaak met wilde diere en onbekende omstandighede gekonfronteer. Tog is ons gedryf deur die wete dat ons seun John-William en ander met disleksie elke dag met soortgelyke worstelling stry. Die samelewing sit mense met disleksie, outisme en leerprobleme volgens hulle waardes en standaarde in boksies waar volgens hulle dink hulle behoort te presteer. Die kinders voel dan dom en het lae selfvertroue, word maklik gefrustreerd en emosioneel omdat hulle nie volgens die standaard van die samelewing kan presteer nie. En tog het die kinders gewoonlik ‘n bo gemiddelde IK.”

Sanel en Emile saam met hulle ondersteuningspan: John-William Honiball, Tommie Cronje en Miral Honibal.

Sanel sê disleksie is die mees algemene leergestremdheid wat daar is. “Volgens statistieke is 20% van die samelewing disleksies. As mens ‘n skool vat wat 1 000 leerders het, is daar 200 leerders wat disleksie is. Dit is 200 leerders waarvoor daar nie voldoende leerprogramme in skole is nie. Al die kinders het nie die ondersteunende raamwerk wat ons kind het nie. Almal se ouers is nie finansieel sterk genoeg om vir hulle kinders die regte onderrig te kan gee nie. Dit is die kinders waarvoor ek ‘n stem wil wees. Iewers moet die Onderwys Departement vir hierdie kinders voorsiening maak. As hulle dit nie doen nie, wie gaan die kinders help?”

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version