Local NewsNews

Hannes Cilliers groet Noordelike Media Groep

Na 36 jaar in die koerantbedryf groet Algemene Bestuurder Hannes Cilliers, vandeesmaand die Noordelike Media Groep.

POLOKWANE – Hy groet so ‘n kortkop duskant sy 65ste verjaarsdag, want ‘n opvolger met koerantervaring is tans beskikbaar om sy plek in te neem.

“n Groot dankie aan Caxton vir die wonderlike jare wat ek aan die maatskappy verbonde kon wees,” sê hy.

“In so ‘n groot maatskappy kan die mens só maklik vergete raak, maar by Caxton is die mens nog altyd belangrik.”

Hy het destyds eers in die regte studeer by Tuks, maar toetse het gewys dat bemarking sy eintlike sterk punt was en hy het die skuif gemaak. Na afloop van sy studies het hy in 1977 as verteenwoordiger my die Suid-Afrikaanse Brouery gewerk vir ‘n jaar, waarna hy tot streekskoördineerder en toe as kleinhandelsontwikkelingskonsultant bevorder is.

In 1984 is hy as ongetroude man na die destydse Pietersburg verplaas.

Hy het ‘n goeie aanbod gekry om by Review te gaan werk en die skuif gemaak. Hy was 16 jaar by Review toe die destydse Nasionale Pers ‘n goeie aanbod gemaak het. Hy het 49% aandele besit by Review en later het Caxton Perskor oorgekoop sowel as sommige van die ander gemeenskapskoerante en het hy vir ‘n ruk by Caxton gewerk voor hy vir vyf jaar geboer het.

Hy het toe weer teruggekeer na die mediabedryf en was betrokke by die ontwikkeling van’n nuwe koerant in Polokwane, die Informant.

Sowat nege jaar gelede het Informant deel geword van die Caxtonstal, en Hannes het weer by die Noordelike Media Groep aangesluit as Algemene Bestuurder.

Hy neem met ‘n tikkie heimweë afskeid.

Hy het by die koerantbedryf begin werk toe koerante nog op ‘n tikmasjien getik is en berigte gemeet en gepas en met ‘n paletmessie uitgesny is om in ‘n bepaalde spasie op ‘n blad te pas.

Die uitleg is geplak op die grootte blad van die koerant en dan is dit gedra na waar dit versigtig, baie versigtig omgedraai moes word… en behoede jou as ‘n stukkie van die vasgeplakte artikels of advertensies afval in die omdraaiproses.

“Nou is dinge totaal anders en werk die hele proses om ‘n koerant elektronies te pak en te druk baie makliker,” vertel hy.

“Almal streef nou daarna om balans te vind tussen digitaal en gedrukte media, en bykans alle koerante het ook ‘n digitale teenwoordigheid.”

As hy terugkyk op sy loopbaan is dit nie noodwendig na die suksesse nie, maar hoe hy sy integriteit en die van die bedryf hanteer en probeer opbou het.

Na die lekker om, as gemeenskapskoerant, die gemeenskap te leer ken. Sy mantra was “A client is a friend who pays…and believes in you and your product’s undisputed integrity”.

“Daar het groot veranderinge plaasgevind in die bedryf in die dekades wat ek in die koerantwese was, maar die gedrukte media sal altyd daar wees.”

Hy gaan die personeel, sommige met wie hy baie jare saamgewerk het, mis.

” ‘n Besigheid is net so suksesvol as die somtotaal van die talente en lojaliteit van sy personeel, ” glo hy.

Hy beskou iemand wat vir ‘n koerant werk glad nie as “belangrik” nie, maar om vir ‘n koerant te kan werk is ‘n voorreg en ‘n uitdaging.

Hy sien uit daarna om ná die besige en vol lewe in die koerantwese tyd te kan hê vir die dinge waarby hy nie altyd kon uitkom nie.

“Die koerantbedryf is só besig dat ‘n mens nie altyd kan uitkom of kan beplan om uit te kom by die dinge wat saakmaak nie. Nou het ek baie goedjies om na uit te sien: Om by my dogter, Inge, in Kirkwood te gaan kuier, sommer net te kan ‘çhill’, uit te sien daarna om twee aande in die wildtuin te gaan slaap, te gaan jag met die kinders, en definitief see toe te kan gaan en amptelik en heeltemal af te skakel.

“Ek gaan by Buffelsbaai vakansie hou, daar waar ek al vir seker 58 jaar gereeld heen gaan – ‘n stukkie hemel op aarde. In Maart gaan ek na St. Nowhere – ‘n geheime plek tussen die duine, tussen niks en nêrens. Dis belangrik dat elke mens moet onthou van die belangrikheid van ietsies om na uit te sien. Die lewe is kort.”

“Ek het net goeie herinneringe van my koerantloopbaan en sal vir altyd dankbaar wees vir wonderlike vriendskappe met kliënte en vir my personeel waarsonder niks moontlik was nie.”

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button