HPP geskiedenis-onnie groet na 11 jaar

Helena Broodryk, geliefde geskiedenis onderwyser van Hoërskool Piet Potgieter het Woensdag, 26 September vir oulaas die skoolklok gelui

MOKOPANE – Nou wag haar aftrede en saam met dit ‘n heerlike vakansie in Namibië en Botswana.

Helena (65) is gebore en getoë in Johannesburg, maar die platteland het haar tuiste geword toe sy en haar man, Robert besluit het om te begin boer. Sy en Robert boer tans met beeste op ‘n plaas buite Mokopane terwyl sy 28 jare se onderwys agter die rug het, waarvan 11 jaar by HPP was. Die egpaar het drie kinders en een kleinkind

Helena vertel sy sien baie uit na haar aftrede en haar en Robert se vakansie wat nou wink. Dan is daar ook haar jongste dogter wat op trou staan.

Dit is duidelik dat Helena so lief is vir onderwys soos wat sy is vir klassieke musiek. Sy het al drie keer ‘n trofee ontvang vir die hoogste punte in gr.12 gekiedenis gelewer in die Mogalakwena Distrik tydens die distriksprysuitdeling. “Ek sal die gesels en elke dag se uitdagings by die skool mis, maar ek sal nie al die kere wat ek kwaad geword het mis nie, vertel sy laggend.

Helena meen tye het baie verander en dat dissipline die grootste uitdaging nou in onderwys is. “Dissipline kom van die huis af en voordat daar nie respek vir ‘n ouer mens by die ouerhuis geleer word nie, sal niks verander nie. Ouers gaan dissipline moet begin toepas. Vir ‘n onderwyser is dit moeilik om ons plig uit te voer sonder dissipline.”

Haar liefde vir klassieke musiek het al op jong ouderdom begin. “Ek het oorspronklik musiek studeer by die Konserwatorium vir Musiek in Pretoria insluitend klavier en sang. Destyds wou ek oorsee gaan, maar finansies het dit nie toegelaat nie. Ek het toe besluit om deur die Universiteit van Suid Afrika (UNISA) my BA graad in opvoedkunde en geskiedenis te studeer, asook my Hoër Onderwys Diploma (HOD).

Sy het ook met musiekklasse begin by DF Malan in Crosby, Johannesburg, bekend as Alma Mater. “Ek het by Kensington Hoërskool in Johannesburg musiek, geskiedenis en afrikaans as vak gegee. Daarna was ek na die destyse Rand Universiteit (Universiteit van Johannesburg) toe en het Afrikaans in die taallaboratorium aangebied.”

Sy en haar man het nadat hy die polisiediens vaarwel toegeroep het in 2000 op Melkrivier met druiwe gaan boer. Daarna het hul na Mokopane verhuis waar sy by HPP aangesluit het. Wat die boerdery betref help Helena waar sy kan en vertel sy dat daar al talle gevalle van diefstal en slagting onder hul vee was. “Een keer het daar ‘n trop van 24 beeste spoorloos verdwyn. Ek was ook al bekommerd oor die veldbrande, dit is heelwat erger as vorige brande wat ons al getref het.”

In 2015 het sy ‘n groot operasie ondergaan wat haar vir 11 dae in intensiewe sorg en ‘n totaal van 21 dae in die hospitaal gelaat het. Sy sê: “As dit nie vir my goeie dokter en die Here se beskerming was nie, sou ek dit nie gemaak het nie. Die operasie sou ‘n gewone mantelvliesbreuk-herstel gewees het, maar hulle het agtergekom dat dele van my maag en diafragma opestoot het boontoe. Ek het nou nie meer regtig ‘n maag oor nie, want alles werk deur my dunderm.”

Helena sê geloof is haar motivering. Sy bedank haar mede-kollegas vir 11 wonderlike jare. “Julle samesyn het my ‘n beter mens gemaak. Ek gaan julle mis. Ek hoop ek het my opdrag uitgevoer.”

lionel@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version