Danika (6) was ‘n sonstraalkind

Die onverwagse dood van 'n sesjarige kleuter het verlede Donderdagoggend die gemeenskap geskok.

MOKOPANE – Klein Danika van Wyk, is skielik na ‘n kort siekbed oorlede en daar is Dinsdagoggend, 25 September swaar afskeid geneem tydens ‘n roudiens by die Trapklippies kleuterskool.

Danika van Wyk (6).

Volgens Elize Jansen, Eienaar van die skool, is almal swaar getref deur die afsterwe van Danika. “Danika was ‘n gesonde, sonstraalkind en na ‘n kort siekbed die afgelope twee weke het sy skielik Donderdagoggend, 20 September, kort voor sewe haar laaste asem uitgeblaas. Dit is vir ons almal so moeilik om te aanvaar.”

Die maatjies wat almal saam Danika in ‘n klas was, het kans gekry om hulle laaste handafdrukke op ‘n bord te maak saam met Danika se afdruk. Daarna het elkeen ook ‘n ballon die lug ingestuur en vir ‘n laaste keer vir Danika gegroet.

Elize sê: “Ek sal nooit Danika se woorde vergeet as ons oor die spoedhobbels ry wanneer ek haar smiddae gaan aflaai het. Dan het sy gekraai van die lag en vir my gesê “Vlieg hoog!” En so sê ek nou vir haar ook: “Danika vlieg hoog.”

Danie en Erika van Wyk, Danika se ouers, bedank die skool en elkeen se bydrae en besorgdheid in die moeilike tyd. Danika se begrafnis vind Saterdagoggend, 29 September om 10:00 plaas by die begrafplaas en word waargeneem deur ds. Wimpie Engelbrecht.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version