Woonbuurt ly onder dronkes en raseriges

Oorverdowende musiek wat uit voertuie se kattebakke blêr, skreeuende bande en arrogante dronkaards het inwoners van Peninapark al ‘n geruime tyd rooi onder die kraag, maar hulle moet skynbaar bloot opsnork omdat daar geen hulp van die polisie of Polokwane Munisipaliteit is nie. ‘n Inwoner wat anoniem wil bly uit vrees vir sy lewe sê: …

Oorverdowende musiek wat uit voertuie se kattebakke blêr, skreeuende bande en arrogante dronkaards het inwoners van Peninapark al ‘n geruime tyd rooi onder die kraag, maar hulle moet skynbaar bloot opsnork omdat daar geen hulp van die polisie of Polokwane Munisipaliteit is nie.
‘n Inwoner wat anoniem wil bly uit vrees vir sy lewe sê: “Ons weet nie meer waar om nog om hulp aan te klop nie want ons hande is afgekap. Ons is te bang om iets te sê en dit is onaanvaarbaar dat daar niks aan die oortreders gedoen word om hulle te vervolg of minstens te verwyder nie. Al wat ons vra is rus en vrede.”
Die partytjies ruk glo soms só handuit dat betrokkenes met hul voertuie in die middel van die straat begin toertjies doen wat al tot ongelukke gelei het. ‘n Kragpaal is al omgery en tydens vorige geleenthede is daar met
voertuie deur inwoners se heinings geploeg. Die musiek is so hard dat mense wat sowat 100 m ver bly se vensters dreun en die hele buurt uit die slaap hou.
“Dit blyk of die owerhede kop in een mus met die dronkaards is of te bang is om hulle te arresteer,” sê hy.
Volgens ‘n bron is daar ‘n groep jongmense wat weekliks van Donderdag tot Sondag by ‘n winkelsentrum in Limpopolaan bymekaar kom en dan openlik drank misbruik, harde musiek speel, rommel strooi en om elke hoek en draai urineer.
“Die partytjies hou tot laatnag en soms tot vroegoggend aan. Ek het op ‘n keer al vier keer die polisie geskakel wat bloot nie reageer het nie. Selfs die munisipaliteit versuim om hulle gemeenskapsveiligheidbeamptes te stuur. Inwoners is te bang om die suiplappe vas te vat omdat hulle soms ‘n groep van sowat 30 is.”
‘n Ander bron sê die polisie het wel een keer opgedaag nadat hulle geskakel is, maar niks aan die situasie gedoen nie. ‘n Inwoner, wat deur dié groep daarvan beskuldig is dat hy die polisie geskakel het, se huis is glo met klippe bestook en sy erf is vol leë drankbottels gestrooi.
Verskeie voormalige GPF-lede is voorheen
al gedreig omdat hulle met dié groep geargu­menteer het. “Die dreigemente het so erg geraak dat lede besluit het om nie meer betrokke te wees nie uit vrees vir hul en hul gesinne se lewens,” sê ‘n gewese lid.
Polokwane GPF-skakelbeampte, Johan Retters, het die belangrikheid dat die munisipa­liteit en die polisie in soortgelyke gevalle moet saamwerk, beklemtoon.
“Dit is van kardinale belang omdat die GPF slegs die polisie se oë en ore is en nie by magte is om dronkaards op straat te arresteer nie. Ek is bewus van lede wat in die verlede glo deur dié oortreders gedreig is en daarom hoop ek dat dit vinnig aangespreek sal word.”
Polokwane Munisipaliteit se kommunikasie­bestuurder, Matshidiso Mothapo, is bewus van die rusverstoring in Peninapark en het die versekering gegee dat die gemeenskapsveiligheidsafdeling saam met die polisie die probleem sal aanspreek.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe, het gesê die polisie sal patrollies in die probleemareas versterk. “Inwoners moet die stasiebevelvoerder oor beweerde kriminele aktiwiteite deur polisiebeamptes inlig.”
Die stasiebevelvoerder, Gift Makhubele, kan by 082 778 7267 geskakel word.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version