Man jaag weg na ongeluk, los beseerde ryer in straat

Die 18-jarige Deonette Erasmus was gelukkig om op Maandag, 3 September met slegs beserings weg te kom nadat 'n motoris skerp voor haar ingedraai het en veroorsaak dat sy met haar motorfiets val.

POLOKWANE – Erasmus en haar ouers vra die gemeenskap of iemand moontlik die ongeluk op die hoek van Springbok- en Gazellelaan gesien het en of hulle moontlik die voertuig wat die ongeluk veroorsaak het en weggejaag het kan identifiseer.

Erasmus is ‘n au pair en kan as gevolg van haar beserings tans nie werk nie.

“Ek het vanuit Thabo Mbekirylaan by Gazellelaan ingedraai toe ‘n voertuig baie vinnig van agter aangejaag gekom het.

“Die bestuurder het my verbygesteek en baie skerp voor my ingedraai sonder om sy flikkerligte te gebruik en het in Springboklaan ingedraai. Ek moes baie vinnig en skerp rem en gevolglik beheer oor die motorfiets verloor en geval. ‘n Voetganger wat gesien het wat gebeur, het agter die voertuig aangehardloop, maar ek het hom teruggeroep omdat die motorfiets op my voet geval het en my voet onder die motorfiets vasgepen was,” vertel Erasmus.

Sy sê die voetganger het haar gehelp om die motorfiets van haar voet af te haal en daar het ‘n paar motoriste stilgehou om hulp te verleen.

“Ek weet egter glad nie watter fabrikaat of kleur die voertuig was wat voor my ingedraai het was nie. Ek was te geskok om selfs vir die man wat my gehelp het te vra of hy dalk weet.”

Sy weet wel dat dit ‘n ‘klein tipe voertuig’ was.

Sy vertel dat haar ouers kort daarna op die toneel was en haar gehelp het.

Sy het ligamente in haar voet geskeur en beserings aan haar arms en bene opgedoen.

Sy dra nou ‘n moon boot, het baie pyn en trap moeilik op haar voete. Sy kan tans nie werk nie en het nie ‘n inkomste nie.

Deon, haar pa, vra dat enige iemand wat meer lig op die voorval kan werp, hom by 066 484 2358 sal skakel.

Hy vra ook dat motoriste meer hoflikheid aan die dag sal lê as hulle mense op motorfietse verbyry aangesien hulle meer weerloos en blootgestel is aan beserings as hulle sou val.

Hy sê die skade aan die motorfiets beloop ongeveer R6 000.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version