Local NewsNews

Wiers-klagstaat sluit nou ook verkragting in

Die saak teen Frans Maela, wat daarvan verdink word dat hy Tanya Wiers in Februarie verlede jaar bloeddorstig by haar huis in Eduanpark vermoor en verkrag het, is deur regter Gerrit Muller tot volgende jaar uitgestel. Die hofordonnans het Maandag na Maela toe gestap en aan die hof uitgewys dat hy wel in die hof …

Die saak teen Frans Maela, wat daarvan verdink word dat hy Tanya Wiers in Februarie verlede jaar bloeddorstig by haar huis in Eduanpark vermoor en verkrag het, is deur regter Gerrit Muller tot volgende jaar uitgestel.
Die hofordonnans het Maandag na Maela toe gestap en aan die hof uitgewys dat hy wel in die hof is nadat sy regsverteenwoordiger aangevoer het dat nie hy of die staat weet waar sy kliënt is nie asof hy hom nog nooit gesien het nie. Dié het tussen drie ander beskuldigdes wat met ‘n ander saak verbind word in die beskuldigdebank gesit.
Muller het aanvanklik die saak tot die middag vir die verdediging uitgestel om hul huis in orde te kry. Pieter Legodi, ‘n prokureur van Regshulp SA, het later die middag gesê hy is nie gereed om met die verhoor voort te gaan nie omdat hy ‘gehoor het’ die saak gaan uitgestel word en omdat hy op dokumente van die staat wag waarna die saak tot 13 Mei 2019 uitgestel is.
Maela, die tuinier van die destydse buurman van die Wiers-gesin, is op dieselfde dag as die moord aangekeer en word daarvan verdink dat hy Wiers in Februarie 2017 by haar huis in Eduanpark met ‘n skêr en mes aangeval en wreedaardig vermoor het. Gesteelde goedere soos ‘n tabletrekenaar, selfoon en juwele is glo in sy besit gevind. ‘n Verkragtingsklag is Maandagmiddag ook bygevoeg.
In sy kommentaar op die uitstel van die saak sê Rolf Wiers, eggenoot van die vermoorde, hy en sy drie kinders is uiters teleurgesteld en ontevrede met die regsproses. Volgens hom was dit die week duidelik in die hof dat die beskuldigde se advokaat geensins voorbereid was om hom te verdedig nie. “Die saak is beslis nie vir hom prio­riteit nie,” het hy opgemerk en bygevoeg dat die uitstel na volgende jaar beteken dat 27 maande gaan verloop voordat die beskuldigde moontlik eers gaan pleit.
“My en my kinders se lewens is totaal ont­wrig,” sê Rolf en wys daaarop dat hy eers­daags op Meyerton begin werk, aangesien sy vorige werksbestemming, Kathu, te ver van Polokwane af is. Die kinders is steeds in Polokwane woonagtig en hul emosies ry erg wipplank.
Rolf sê die moeilikste om in hierdie stadium te aanvaar, is dat alle bewyse van die misdaadtoneel beskikbaar is, maar dat daar geen vordering in belang van geregtigheid is nie.
“Ek en my kinders wil weet wat daardie dag by my huis gebeur het. Waarom was die beskuldigde in my huis en wat was sy motief om die wreedste misdaad denkbaar te pleeg,” vra hy.
“Ons soek geregtigheid en afsluiting.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Related Articles

Back to top button