‘Dokter Bertie Malan’ se lugtydslenter in stad

‘n Slenter van die ene ‘dokter Bertie Malan’ waarin verskeie mense in die provinsie al getrap het, steek nou ook in Polokwane kop uit. Die skelmstreek behels ‘n oproep van ‘n man by name dokter Bertie Malan op ‘n plaas waar die elektrisiteit ‘n geruime tyd al af is en hy groot hoeveelhede vleis het …

‘n Slenter van die ene ‘dokter Bertie Malan’ waarin verskeie mense in die provinsie al getrap het, steek nou ook in Polokwane kop uit.
Die skelmstreek behels ‘n oproep van ‘n man by name dokter Bertie Malan op ‘n plaas waar die elektrisiteit ‘n geruime tyd al af is en hy groot hoeveelhede vleis het om weg te gee voordat dit sleg word. Die persoon word dan versoek om vir hom lugtyd te koop en die geheime kode vir hom te stuur waarna die vleis op sy plaas opgelaai kan word. Kontak met die slagoffer word egter summier verbreek sodra hy die lugtydbesonderhede ontvang het.
Die sogenaamde dokter Bertie Malan het Maandag sy geluk met Hilton Hughes van ‘n plaaslike kwekery probeer. “Hy klink geloofwaardig en baie beskaafd oor die foon wanneer hy die storie vertel,” sê Hughes wat die ‘aanbod’ aanvaar het en voorgegee dat hy in die ry staan om lugtyd te koop. Hy het hom later teruggebel en gesê: “Ek is amper by jou plaashek. Hy was skielik aggressief en het gesê ek moet alles los want ek het te lank gevat.”
Dit is toe dat Hughes hom uitlag en sê hy weet waarmee hy besig is. “Malan het woedend geraak, my gevloek en later teruggebel en gedreig dat ek moet lig loop want hy weet wie ek is.”
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe, was nie van die slenter bewus nie, maar het mense aangemoedig om dit by die polisie te rapporteer sodat hy hopelik vasgetrek kan word.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version