Local NewsNews

R1 000 beloning vir geliefde troeteldier

Met groot oë en 'n nat neusie raak Toffie die Jack Russel aan die begin van 2003 deel van Erick Vogel se gesin.

POLOKWANE – Vandag, 16 jaar en baie stories later, het Toffie weggeraak en met trane in sy oë vertel Erick hoe dit gebeur het.

“Ons het slegs ‘n paar dae gelede na Polokwane verhuis nadat ons lank in die rand gebly het. Saterdagaand het ek die hek oopgemaak om uit te gaan toe ons ander twee honde baklei het. In die tyd wat ek hulle uit mekaar gekry het, het Toffie by die hek uitgeglip.”

Erick offer ‘n R1 000 beloning vir enige iemand wat sy Toffie-hond kry.

“Toffie is reeds 16 jaar oud en half doof. Hy sien ook nie meer so mooi nie, en is baie maer. Hy wou die laaste paar dae nie regtig eet nie.”

Erick onthou hoe Toffie sy naam gekry het.

“Toffie is so taai soos ‘n toffie. Hy was maar ses weke oud toe my seun hom vir my gekoop het. Ons ander twee honde is vergiftig en die huis was leeg. Die tweede dag nadat ons hom gekry het, het hy ook gif ingekry. My vrou het met hom veearts toe gejaag waar hy behandel is. My vrou het gesit en wag vir nuus oor hom toe die veearts uitkom en vir haar sê dat Toffie dit sal maak en dat hy klaar al vir die veearts grom. Dis toe dat ons besluit om hom Toffie te noem.”

Erick vertel dat dit maar die begin van Toffie se besoeke aan die veearts was. “As dit nie ‘n vishoek deur die neus was of ‘n gebreekte voet nie, dan was dit ligamente wat vervang moes word. Dit het glad nie saak gemaak nie. Hy is soos ‘n kind in ons huis.”

Toffie is baie lief vir swem en kon homself ure lank in die swembad met ‘n bal besig hou.

“Ek mis my Toffie-hond en smeek enige iemand wat enige nuus oor hom het om my te kontak.”

Kontak Erick by 083 263 6539 as jy vir Toffie sien.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button