Skokstories oor vrot hospitaaldiens duur voort

Vir Piet van Sittert is dit moeilik om sy vrou, Marie (63), se onlangse dood te verwerk, veral in die lig van die swak diens by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal wat hy glo tot haar dood gelei het. Hy het regstappe oorweeg, maar sê sy vrou sou dit nie so wou gehad het nie. Van …

Vir Piet van Sittert is dit moeilik om sy vrou, Marie (63), se onlangse dood te verwerk, veral in die lig van die swak diens by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal wat hy glo tot haar dood gelei het.
Hy het regstappe oorweeg, maar sê sy vrou sou dit nie so wou gehad het nie.
Van Sittert sê ‘n soortgelyke berig oor die hospitaal in verlede week se uitgawe van Polokwane Observer het hom genoodsaak om te praat oor dit wat met sy vrou gebeur het.
Aanloop tot hospitalisasie
Marie het ‘n paar maande gelede haar lae rug beseer toe sy ‘n bed opgemaak het. ‘n Senuwee het so erg vasgeknyp dat sy nie kon urineer nie en ‘n kateter moes kry. “Daar het ‘n dokter vir haar ‘n loopraam gegee en gesê sy is nou soos ‘n ou motor wat nooit weer sal kan loop nie en dat sy maar huis toe kan gaan,” sê Van Sittert.
In April vanjaar het Marie ‘n maagsweer ontwikkel wat mettertyd veroorsaak het dat sy nie meer vaste kos kon eet nie. “Ek het met haar ongevalle toe gejaag en van 06:00 gesit en wag. Na 23:00 is sy met ‘n paar pille en ‘n afspraak vir ‘n gastroskopie huis toe. Tydens die gastroskopie ‘n maand later het ‘n dokter vasgestel die maagsweer veroorsaak ‘n vernouing in haar maag en daarom kon vaste kos nie verteer nie. Ons is huis toe met ‘n afspraak in Junie vir ‘n bariomaal (maag- en ingewandeondersoek) en vir ‘n CT-skandering. ‘n Week later het die egpaar ‘n spesialis gesien wat weer ‘n CT-skadering wou laat doen omdat hy nie die dokter se verslag verstaan het nie. Die radioloog het gesê ‘n tweede skandering is onnodig.
‘n Week later is hul terug na die spesialis wat toe weer ‘n gastroskopie gedoen het. Van Sittert vertel: “’n Dokter wat hom bystaan sou dit doen, maar die spesialis het die apparaat uit sy hande geruk toe hy sien hoe seer hy haar maak. Dié spesialis was vriendelik en het presies vir ons verduidelik wat aangaan en wat die pad vorentoe behels.”
Hospitalisasie
Marie is op 7 Augustus gehospitaliseer sodat sy voeding kon ontvang om haar vir die operasie voor te berei. “Ons het haar elke aand besoek en op 14 Augustus was ek saam met my kinders by haar. Sy het goed gelyk, maar toe ons die volgende aand daar kom, het ek haar byna nie herken nie. Haar gesig was opgeswel en sy het nie eens meer binneaarse voeding ontvang nie. Ek het dadelik ‘n verplegingshoof genader wat op sy beurt versoek het dat die binneaarse voeding teruggesit moet word,” sê van Sittert.
Marie is die volgende dag na saal 13 geskuif en ‘n dag daarna na ‘n ander saal waar verpleegpersoneel glad nie inligting met Van Sittert oor sy vrou se welstand wou deel nie en sy mettertyd in ‘n koma verval het.
Van Sittert het foto’s van hoe sy vrou ten tye van haar dood gelyk het. Hy wys hoe haar wang en skouer opgeswel was. “Nadat ons die laaste aand by haar was toe sy betreklik goed gelyk het, moes iets gebeur het. Sy moes geval het, want haar sleutelbeen het uitgestaan en was erg geswel. Ek glo sy is moedswillig seergemaak, maar die verpleegsters se verduideliking was dat sy ‘n onrustige nagrus gehad het.”
Laaste desperate poging
Uit desperaatheid dat sy vrou die nodige sorg kry is Van Sittert op 18 Augustus na die departement van gesondheid waar hy ‘n na lang gesukkel met ‘n vrou oor Marie se omstandighede kon gesels. Die vrou het ‘n oproep na die hospitaal gemaak, maar dit was te laat en Marie is die volgende dag omstreeks 02:00 oorlede.
“In my hart weet ek dit is die hospitaal se skuld. Ek kan niks bewys nie, maar sy het nie die wyse waarop sy dood is verdien nie. Sy was saggeaard en het nie nodig gehad om so te ly nie,” sê Van Sittert.
Marie was vir baie jare as onderwyser by Heidi en Peter Kleuterskool werksaam.
Departement se kommentaar
Die departement van gesondheid se woordvoerder, Neil Shikwambana, het teen druktyd nie op navrae gereageer nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version