Drie in boendegeweld om stad dood

Die polisie het hul verontrusting uitgespreek nadat boendegeweld wat verlede week in drie gebiede rondom die stad uitgebreek het die lewens van drie mense geëis het. Die drie wat onder meer van inbrake en diefstal tydens drie afsonderlike voorvalle in Seshego, Mankweng en Mashashane beskuldig is, is glo deur gemeenskapslede om die lewe gebring. Provinsiale …

Die polisie het hul verontrusting uitgespreek nadat boendegeweld wat verlede week in drie gebiede rondom die stad uitgebreek het die lewens van drie mense geëis het.
Die drie wat onder meer van inbrake en diefstal tydens drie afsonderlike voorvalle in Seshego, Mankweng en Mashashane beskuldig is, is glo deur gemeenskapslede om die lewe gebring.
Provinsiale polisiekommissaris, Nneke Ledwaba het ‘n dringende beroep op gemeenskappe gedoen om nie reg in eie hande te neem nie.
“Vat eerder hande met die polisie deur inligting van verdagte persone aan die polisie deur te gee sodat skurke aangekeer kan word en geregtigheid kan geskied.”
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe het gesê ‘n 29-jarige man is by Mentz, Mankweng deur gemeenskapslede aangerand nadat hulle hom van ‘n reeks inbrake in die gebied beskuldig het. In Moremadipark, Seshego het gemeenskapslede saamgetrek en ‘n 38-jarige man wat van diefstal beskuldig is aangeval.
Beide voorvalle het verlede Sondag gebeur, maar die mans was met die polisie en nood­dienswerkers se aankoms reeds dood, volgens Ngoepe.
Tydens ‘n derde voorval in Sebora-nedersetting buite Mashashane het gemeenskapslede opgeruk, paaie blokkeer en verbygaande motors met klippe bestook nadat ‘n 35-jarige man wat glo kabels in die gebied gesteel het, deur vier verdagtes om die lewe gebring is.
‘n Huishulp van die stad wat verkies om anoniem te bly het vertel sy was per bus op pad huis toe toe hulle by Sebora voorgekeer is. “Ons het almal plat in die bus gelê terwyl die bestuurder agteruit gestoot het om van die betogers af weg te kom. Ons kon glad nie huis toe gaan nie en ek moes slaapplek in die stad soek,” sê sy. Sy het die volgende dag ‘n alternatiewe roete per taxi huis toe geneem.
Ngoepe sê die polisie was vinnig op die toneel om betogers te verjaag. Een persoon is in verband met die moord op die vermeende kabeldief in hegtenis geneem, volgens Ngoepe, maar hy kon nie verdere inligting oor sy hofverskyning verskaf nie. Die polisie soek na nog drie verdagtes.
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, Richard Boshomane, by 079 894 5501 skakel of by die naaste polisiestasie aanmeld.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Exit mobile version