HPP se top leiers in spervuur

Hoërskool Piet Potgieter se Skoolhoof, Jimmy Steele, het Dinsdagoggend openhartig met Bosveld gesels oor die voorval en die leerders wat in die spervuur is.

MOKOPANE – Ontevredenheid het vandeesweek in sommige kringe rondom die Hoërskool Piet Potgieter geheers, nadat ‘n kwartaaltoets op ‘n oneerlike wyse met ‘n selfoon afgeneem en gedeel is.

Leerders betrokke by dié misstap is kort vantevore tot dié skool se leerlingraad verkies.

Hoërskool Piet Potgieter se Skoolhoof, Jimmy Steele, het Dinsdagoggend openhartig met Bosveld gesels oor die voorval en die leerders wat in die spervuur is.

“Dit was ‘n ongelukkige voorval wat ons ten sterkste afkeur, maar kinders maak foute.”

Die toets wat ter sprake is, verduidelik Steele, was ‘n gr.11-kwartaaltoets wat die leiers sou aflê voordat hulle op ‘n leiersimposium sou vertrek.

Een van die leerders het egter die toets die vorige middag onder oë gekry.  Nadat foto’s van die toets per selfoon geneem is, is dit versprei.

Volgens Steele was sewe van die nuutverkose leiers medepligtig.  Al sewe is ook deur die leerlingraad tot die uitvoerende komitee van die leerlingraad verkies.

Aangesien die skool dié leerders se misstap in ‘n baie ernstige lig beskou, is die hulp van die skool se beheerliggaam (dagbestuur) dadelik ingeroep.

“Ons het van meet af besluit die saak sal streng volgens die goedgekeurde Gedragskode hanteer word.  Ons het meer as twee ure oor die saak besin.”

Die skool se Gedragskode maak melding van die onregmatige gebruik van tegnologie insluitend ‘n selfone tydens ‘n toets, eksamen of klastyd, en daar is besluit om die betrokke leerders op grond hiervan aan te kla. Die waarde van hul straf sou minus 50 punte wees volgens die skool se demerietestelsel.

Dit sou beteken dat die leerders met detensie gestraf word.

Volgens Steele het die skool ook regshulp ingewin.

“Kinders maak foute.  Dit is ongelukkig so dat hulle tydsberekening nie slegter kon wees nie.

“As ons daardie sewe leerders van hulle prefekbalkies ontneem het, sou dit beteken het dat sewe van die 10 sterkste leiers in die skool uit die vergelyking uitgehaal word en sou seuns en dogters tot die uitvoerende komitee verkies word, wat nie deur hul maats verkies is maar wel deur die omstandighede,” het Steele gesê.

“Dit sou beteken het dat ons daardie leerders onnodig sou blootstel om vir ‘n jaar lank onder geweldige druk as lede van die uitvoerende komitee te dien.

“Ons het gevoel dié leerders is kinders wat hoë bome gaan word en by wyse van spreke baie wind sal kry.

“Tans is hulle jong boompies. Hulle het ‘n fout gemaak.

“Die stammetjies is gebuig. Ons kon besluit of ons die stammetjies gaan afbreek en of ons die boompies gaan regop buig, dit spalk en versorg sodat hulle wel die geleentheid sal kry om hoë bome te word.”

Steele het gesê dat dit ‘n slegte tyd vir die skool is, maar dat die oortreders bygestaan sal word.

Hy sê daar is deeglik oor die uitkoms besin.

“Ons het ons integriteit getoets, en gevra hoe die saak hanteer sou word indien ander leerders betrokke was. Ek is heeltemal tevrede dat ons wel die regte prosedures gevolg het.”

Volgens Steele het van die leerders reeds Vrydag detensie gesit en die res sal komende Vrydag sit.

“Die kinders is emosioneel deur ‘n geweldige moeilike tyd en ons gaan hulle juis vir daardie rede nie verder blootstel aan die emosionele uitmergeling nie,” het Steele gesê.

“Ek wil dit ook stel dat die voorsitter van die beheerliggaam familiebetrekkinge het by een van die leerders, en het daarom die vergadering bygewoon in sy hoedanigheid slegs as waarnemer.”

redakteur.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version