Local NewsNews

Geen alkohol toetsstelle beskikbaar – polisie

Bewerings dat daar geen alkoholtoetsstelle in die stad beskibaar is nie, het twee motoriste van die stad warm onder die kraag nadat hulle Vrydagmiddag in 'n kettingbotsing betrokke was.

POLOKWANE – Drie voertuie was in die ongeluk by die kruising van Potgieterlaan en Devenishstraat betrokke en daar word vermoed dat een van die motoriste onder die invloed was ten tyde van die ongeluk.

Volgens twee van die motoriste het hulle by die kruising gewag toe ‘n derde voertuig agter in hulle vasgery het.

Lees ook: ‘Dinge verander so vinnig, leef elke sekonde asof dit jou laaste is…’

Volgens die bestuurder van die middelste voertuig het die agterste voertuig, ‘n Mercedes, met ‘n baie harde slag van agter af in hulle vasgery en hulle toe teen die motor voor hulle, wat gewag het vir ‘n motor voor hom om vanuit Potgieterlaan in Devenishstraat in te draai, vasgestamp is.

“Ons motor is bykans 15 m vorentoe gestoot deur die impak van die stamp,” sê die passasier van die middelste motor.

Een van die ander passasiers het aan Review vertel dat hulle alkohol op die motoris van die agterste voertuig se asem kon ruik. “My man het ook ‘n foto geneem van ‘n drankbottel wat in sy voertuig was,” het die passasier bygevoeg. Die bestuurder van die agterste motor het blykbaar later, voor die polisie gekom het, slingerend in Devenishstraat afgeloop waarna omstanders hom gaan haal het en na die toneel teruggebring het. ‘n Passasier van die agterste motor is met ‘n ambulans na die hospitaal vervoer.

Volgens een van die motoriste het die polisie blykbaar eers ongeveer ‘n uur na die ongeluk by die toneel opgedaag en het na bewering eers met die bestuurder van die agterste motor gepraat voordat hulle by die bestuurders verklarings geneem het.

Toe die bestuurders van die middelste en voorste voertuig aandring dat die bestuurder van die agterste voertuig se bloedalkoholvlakke getoets word, het die polisie hulle meegedeel dat hulle dan ook sou moes instem om getoets te word.

Hulle het ingestem en die polisie het glo die bestuurder van die agterste voertuig na die nabygeleë Rethabile Kliniek geneem. By die klinek aangekom, was die bestuurders van die middelste en voorste motor meegedeel dat die polisie ongelukkig geen alkoholtoetse kon doen op enige een van die bestuurders nie aangesien daar geen alkoholtoetse in Polokwane of Westenburg beskikbaar was nie. Die bestuurders was was toe versoek om die ongeluksverslae later by die polisiestasie te gaan afhaal.

“Toe ons die verslae kry het ons gesien dit was heeltemaal verkeerd opgestel, asof my man die motor voor ons gestamp het en die agterste motor toe in ons vasgery het,” vertel die passasier van die middelste motor. Daar word ook melding gemaak van ‘n toegeeteken waar die voorste motor sou gewag het vir die kar voor hom wat wou draai, terwyl geen toegeeteken in Potgieterlaan by die aansluiting is nie. Die selfoon nommer van die voorste voertuig se bestuurder is ook verkeerd op die vorm, met syfers wat ontbreek. Geen geskrewe verslag is ingevul by die verslag van die bestuurder van die agterste voertuig nie en geen melding word gemaak van die beseerde passasier in dié voertuig nie.

Polisiewoordvoerder, kol. Moatshe Ngoepe, sê die betrokkenes kan die stasiebevelvoerder gaan spreek om hul ontevredenheid met die verslag te lig. Hy het egter gesê die bewerings dat daar geen toetsstelle in Polokwane beskikbaar was nie, ondersoek sal moet word. Teen druktyd is geen terugvoer hieroor nog ontvang nie.

nelie@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button