Local NewsNews

Psigiater dood voor hofsaak

Die omstrede plaaslike psigiater, Barend Vorster (63), wat van verskeie seksuele misdrywe op minderjariges aangekla is en vandeesweek glo weer in die Mokopane streekhof sou verskyn, is Dinsdag aan ‘n hartaanval by sy huis oorlede. Volgens ‘n vriendin het die huishulp op sy lyk afgekom waarna die praktykbestuurder, Leon Steyl, in kennis gestel is. Vorster …

Die omstrede plaaslike psigiater, Barend Vorster (63), wat van verskeie seksuele misdrywe op minderjariges aangekla is en vandeesweek glo weer in die Mokopane streekhof sou verskyn, is Dinsdag aan ‘n hartaanval by sy huis oorlede.
Volgens ‘n vriendin het die huishulp op sy lyk afgekom waarna die praktykbestuurder, Leon Steyl, in kennis gestel is.
Vorster het sedert 2009 hoofopskrifte in die nuus gehaal nadat hy in November dieselfde jaar van die oordosering van medikasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe aangekla is. Die raad het destyds bevestig dat daar ‘n soortgelyke klag teen Vorster ondersoek word.
‘n Jaar later in November 2010 is hy op verskeie aanklagte van seksuele misdrywe op min­derjariges gearresteer en twee dae later op borgtog vrygelaat. Hy is drie dae later weer aangekeer, dié keer op aanklagte van die besit van ‘n onwettige vuurwapen. In 2014 het Vorster weer voorgekom op klagte van onsedelike aanranding, kinderpornografie en verkragting.
Marietjie du Toit, eertydse hooflanddros, en Vorster was die afgelope 12 jaar hegte vriende.
“Ek het hom as ‘n saggeaarde mens en iemand wat altyd goed gedoen het by die werk leer ken. Hy het talle gesinne onderhou, was vrygewig en het opregte bemoeienis met sy pasiënte gemaak.”
Vorster se broer, Willem, het sy dood aan ‘n hartaanval bevestig, maar wou nie verder kommentaar lewer nie en gesê hy sal hul suster vra om die publikasie te skakel.
Steyl het Polokwane Observer se navrae na die oorledene se regspraktisyns in Pretoria verwys.
Benewens sy twee broers en ‘n suster laat hy sy dogter, Iouna, wat in Australië woon, sowel as sy vervreemde vrou, Martha, agter.
Provinsiale polisiewoordvoerder Moatshe Ngoepe kon nie Vorster se dood bevestig nie. Hy sê hulle is wel bewus van die saak, maar kon teen druktyd geen verdere detail verskaf nie.

Related Articles

Back to top button