Local NewsNewsUpdate

Juffrou op herstelpad na krok-aanval

Nadat sy vroeër vanjaar 'n krokodilaanval oorleef het is Lana Steyn op die herstelpad en pas goed aan ondanks die vier vingers wat sy verloor het.

POLOKWANE – Steyn is ‘n onderwyser by ‘n skool in die stad en sy sê die ondersteuning wat sy van die gemeenskap, en veral die leerders, ontvang het is bemoedigend.

Sy en ‘n vriend, Mike van der Merwe, het op 5 April by ‘n dam naby die Limpoporivier gaan visvang toe die aanval gebeur het. Van der Merwe kon daarin slaag om haar vanuit die krokodil se kake te bevry en het met haar na die MediClinic Limpopo gehaas waar sy ‘n noodoperasie ondergaan het.

Lees meer: Krokvrou nét betyds, sê plastiese sjirurg

Alhoewel haar ringvinger en pinkie nie in die aanval afgebyt was nie, het daar infeksie in haar ringvinger ontwikkel en moes dit ook geamputeer word. Sy het onlangs ‘n veloorplanting gekry en bedank die plastiese sjirurg, dr. Lloyd Chokoe, vir die wonderlike werk wat hy verrig het.

Lana Steyn sê sy voel glad nie selfbewus oor haar hand na sy vier vingers in ‘n krokodilaanval verloor het nie.

“Ek sê veral dankie vir Laerskool Pietersburg en Larskool Piet Hugo vir die skenkings asook dr. Christa Carlisle wat my emosionele ondersteuning bied om die trauma te verwerk,” vertel Steyn.

Alhoewel daar nog af en toe pyn is en sy nog nie die volle mobiliteit van haar skouer herwin het nie, sê Steyn sy is positief oor die toekoms en sy gaan binnekort met fisioterapie begin om die mobiliteit in haar skouer te verbeter.

“Ek glo alles gebeur vir ‘n rede. Ek het nie gedurende die aanval moed opgegee nie en ek sal nooit tou opgooi nie omdat ek glo God het ‘n plan met almal se lewe. Ek het so baie om voor te leef, my familie, vriende en veral my leerders.”

Alhoewel ‘n skenker in Botswana aangebied het om vir haar prostese te betaal wil Steyn eers sonder ‘n prostese probeer klaarkom, iets wat sy reeds byna bemeester het.

“Ek is nie selfbewus oor my hand nie en ek wil leer om my hand sover as moontlik sonder ‘n prostese te gebruik. Ek sal miskien in die toekoms van plan verander maar ek kan baie meer met net my pinkie doen as wat ek gedink het,” vertel sy.

Een van haar dogters, Heidi, het by Steyn ingetrek om haar by te staan totdat sy heeltemal onafhanklik kan funksioneer.

“Sedert die aanval het sy my in elke tree van my herstelpad ondersteun, ek kan nie in woorde omsit hoe baie ek haar hulp waardeer nie. Sy is altyd daar om my te bemoedig en gerus te stel wanneer ek nagmerries het.”

https://www.citizen.co.za/review-online/129719/staan-vrou-by-wat-krokodil-troef/

anne@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button