Local NewsNews

‘Lys’ van plase ruk Limpopo boere

Onweerswolke pak saam oor boere se plase na Afriforum op Sondag, 12 Augustus, 'n naamlys bekend gemaak het op sosiale media van plase wat deur die regering onteien gaan word sonder vergoeding.

LIMPOPO -Marcelle Maritz, Limpopo Leier van Vryheidsfront Plus, sê daar is nege plase in Limpopo op die lys.
“Ek het met vier boere van die omgewing gepraat wie se plase op die lys is, maar hulle wil nie nou hulle gegewens bekend maak in die media nie. Die boere is bekommerd en onseker oor die toekoms. Een van die boere wou sy plaas verder ontwikkel en uitgebrei, maar nou sê hy dit is nie meer moontlik nie. Hy het alles op halt gesit. Ongelukkig kan ek vir niemand sekerheid gee oor die toekoms nie.
“My raad aan boere is om te sorg dat jy ingeskakel is by nooddienste, landelikeveiligheidsgroepe, jou bure se kontaknommers het en jou onmiddelike omgewing beveilig is. Sorg ook dat jou familie weet wat om in noodsituasies te doen.”
In dié video wat sorg vir ‘n vurige debat op AfriForum se Facebookblad gesels Ernst Roets, AfriForum Adjunk-uitvoerende hoof, en sê die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, Maite Emily Nkoana-Mashabane, het gesê hulle het ‘n lys met 139 plase saamgestel wat onteien gan word sonder vergoeding.
Volgens Roets het Afriforum die lys bekom wat intern in die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming versprei word.
“Op die lys is nie net 139 plase nie, maar wel 200 wat geidentifiseer is. Afriforum moedig boere aan om Afriforum te kontak. Indien jou plaas of iemand wat jy ken se plaas op die lys is, kontak AfriForum. So kan die boere instaat gestel word om saam aan ‘n regsproses te werk.”
Agri SA het in ‘n media verklaring Maandagoggend gesê hulle bevraagteken die geldigheid van die naamlys en dat die bekendmaking van die lys onverantwoordelik is.
Dan Kriek, President van Agri SA, sê: “Ons is besig om die geloofwaardigheid van die lys van plase te verifieer. Dit is onverantwoordelik van AfriForum om onbevestigde inligting te publiseer, juis omdat dit opruiend is.”
Volgens Agri SA het ‘n blitsopname gewys dat die lys onakkurate inligting bevat, wat maklik voor die bekendmaking daarvan geverifieer kon word. Ondersoek deur Agri SA se affiliasies het bevind dat sommige plase op die lys deur gesamentlike ondernemings met swart boere besit word.
Kallie Kriel, Hoof Uitvoerende Beampte van AfriForum, het op Agri SA se persverklaring geantwoord en gesê Agri SA moet duidelikheid by die minister eis, maar skaar hulle nou eerder by die minister se geheimhoudingstrategie en dit is tragies.
“Die minister wil nie die lys van plase wat onteien gaan word, onthul nie, sodat grondeienaars nie kan begin om voorbereidings vir regsaksies te tref nie. AfriForum het as teenvoeter hierop die lys bekom en bekend gemaak.”
Die voorsitter van TLU SA Noord, mnr. Henk van de Graaf sê Boere wie se grond geteiken word vir onteiening, hetsy sonder of teen ‘n simboliese laer as markwaarde vergoeding, moet weier om hulle grond af te staan, want dit is niks anders as diefstal nie.
Volgens van de Graaf het die boere eenparig besluit om enige moontlike onteiening met alle moontlike mag teen te staan, omdat nie hulle of hulle voorouers enige grond gesteel of andersins onregmatig bekom het nie.
“Hierdie sterk standpunt is ingeneem nog voordat daar kennis geneem is van ‘n lys met plaasname wat skynbaar vir onteiening geoormerk is. Boere sien dit as kwaadwillig en ‘n oorlogsverklaring, en die regering moet besef dat hy met vuur speel en afstuur of ‘n uiters plofbare situasie, wat tot niemand se voordeel gaan wees nie,”
Van de Graaf se die situasie vereis groter samehorigheid oor die beginsel teen onteiening.
“Al sou net een plaas onteien word en dit word deur die landbougemeenskap toegelaat, sal dit slegs die eerste domino wees wat ‘n proses tot gevolg gaan hê, daarom moet gemeenskappe hulleself organiseer en by georganiseerde landboustrukture inskakel sodat ‘n deeglike plan van optrede uitgewerk kan word vir ingeval so iets sou voorkom.”
“TLU SA Noord gaan begin om ‘n dispuut met die regering te verklaar oor die onteiening van enige grond in die Limpopo provinsie, asook om ‘n dispuut te verklaar oor die wettigheid van ‘n wysiging van die Grondwet om diefstal te regverdig.
“Ons vra dat alle grondeienaars die dispuut gaan ondersteun by wyse van die ondertekening daarvan.”
Dr Pieter Groenewald, Leier van die Vryheidsfront Plus, sê hy doen ‘n beroep op die minister om die lys so gou moontlik bekend te maak sodat daar sekerheid kan kom by grondeienaars wat deur die onteiening geraak sal word.
“Die gelekte lys wat AfriForum onlangs bekend gemaak het, skep tans groot angs, verwarring en ontsteltenis by eienaars wie se grond op die lys voorkom.
“Daar kan nie van boere verwag word om groot insetkoste aan te gaan indien daar ‘n moontlikheid bestaan dat hulle alles kan verloor nie.”
redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

Back to top button