PHS-rugby kry hupstoot

Daar is tans nuwe hulp by Hoërskool Pietersburg se rugbyspanne en dié nuwe 'geheime wapen' begin reeds 'n verskil maak.

POLOKWANE – Jacques Swanepoel se belangstelling in die skool het begin met sy twee kinders wat daar skoolgaan.

“Ek is deur Neil Swarts genader om by die skool se rugby betrokke te raak. Ek het ingestem en daar is met die herstruktureringsproses van dié sport begin. Die mikpunt was om die seuns vaardig genoeg te kry om in rugby uit te blink,” vertel hy.

Swanepoel gaan by verskeie PHS-spanne betrokke wees en sy hoofdoelwit is om seker te maak dat die spelers portuur teen portuur en krag teen krag speel.

“Tot ons skok het ons gesien dat die rugbygetalle in die land in baie skole afneem. ‘n Paar jaar gelede het jy meer spanne gehad maar nou is daar net een span per ouderdomsgroep. Beserings jaag seuns weg van die sportsoort af en die mediese koste daaraan verbonde is bloot te veel so skole, veral in Limpopo, kan dit nie bekostig om meer spanne te hê nie,” vertel hy.

Lees ook: PHS swem uitdunne maak leerders gereed vir die swem seisoen

Groot veranderinge wat hy sê na gekyk moet word is die kondisionering van spelers, die psigiese komponent van die spel, die tegniese kant van die spel en die taktiese komponent.

“PHS spandeer byvoorbeeld vyf ure in ‘n week aan rugbyoefening waar skole soos Grey College 10 ure per week, daarom moet ons begin om ouers en personeel te draai om meer tyd aan die werk voor elke wedsryd van die begin af af te staan en nie net kort voor die afskop van die wedsryd nie.”

Swanepoel is reeds meer as 20 jaar by rugbyafrigting betrokke nadat hy self op universiteit gespeel het. Hy moes na ‘n besering uittree maar het met afrigting voortgegaan.

Onder andere het hy in Nieu-Seeland gaan afrig en hy is een van die stigterslede van die Puk Instituut. Hy vertel dat motivering van ‘n span kom deur ‘n seisoen van dag een af, nie net wanneer dinge skeefloop nie.

Wanneer hy nie rugby kyk of afrig nie, spandeer hy graag tyd saam met sy gesin.

“Ek jag graag en is baie lief vir die natuur. Ek hou ook daarvan om by warmwaterbronne vakansie te hou,” vertel hy.

Hy beskryf homself as iemand met baie passie en hy wil graag mense sien groei en daarom sien hy homself as nie net ‘n rugbyafrigter nie maar ook as ‘n lewensafrigter.

Sy droom is om te sien dat skolerugby bly groei en dat die liefde vir dié sportsoort iets is wat al dieper en dieper van bulletjierugbydae af onder spelers gekweek word.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version