Boelie kry 2de kans

Die gemeenskap van Mokopane is geskok deur die nalatigheid van 'n honde-eienaar wat sy diere verwaarloos het en nie behoorlik gevoed het nie.

MOKOPANE – Marcelle Maritz, Bestuurder van die Percy Fyfe Dierebeskermingsvereniging (DBV), sê sy het ‘n oproep van ‘n plaaslike sekuriteitsmaatskappy ontvang wat hulle kommer uitgespreek het oor twee honde wat erg ondervoed is.

“Ek is in totale skok oor die twee brandmaer honde wat ons by ‘n woning in Akasia gevind het. Ek en Benjamin Sithole, Superintendent van die DBV, het dadelik die diere verwyder en ‘n saak van dieremishandeling by die polisie aanhangig gemaak.”

Maritz vertel hulle kon ‘n aanneemhuis vir die boerboel, genaamd Boelie, kry maar die jack russelkruising moes hulle noodgedwonge laat uitsit.

“Ek is baie dankbaar vir Boelie se aanneemouers en dat hulle bereid is om hom ‘n tweede kans op lewe te gee.

“Ek is ook dankbaar vir dr. Sanja Coetzee, Veearts van Mokopane Dierekliniek, wat aangebied het om Boelie te ondersoek en ‘n verslag te skryf oor sy toestand en sy vordering te monitor.”

Coetzee sê onder meer in haar diagnose dat Boelie erg ondergewig en ontwater is en met vlooie en bosluise oortrek was.

Hy het ook ‘n baie sensitiewe bedseer op sy heupbeen en bloed en sweersel loop daaruit.

Maritz sê die gemeenksap is woedend en haar Facebookblad is oorlaai met boodskappe wat versoek dat die skuldige strafregtelike vervolg moet word. “Boelie kry ‘n tweede kans en het ons almal se hulp nodig. Sy oë is vol lewe, maar hy kort nog baie mediese hulp. Help ons om vir Boelie te help deur ‘n donasie in die Mokopane Dierekliniek se rekening te maak.” Tjekrekeningnommer: 1101604891, takkode: 198765 en verwysing: Boelie.

Kosskenkings kan by Bosveld se kantoor in Van Riebeeckstraat gelos word, waar Maritz dit sal afhaal.

redaksie.bosvelder@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
Exit mobile version